Hou só jong meisies op skool
Die gebrek aan sanitêre doekies vir skoolmeisies uit minder bevoorregte families, maak dat hulle dikwels eerder tydens menstruasie van die skool wegbly. Die Universiteit van Namibië se Maltasklub het ná ’n besoek aan verskeie streke van die land besluit om sanitêre doekies vir skoolmeisies verbonde aan drie skole in die landelike noordelike gebiede van die land in te samel. Volgens die inisieerder en stigter van die klub, dr. Willfred April, is die doelwit om 10 000 doekies bymekaar te maak. "Ons sien dit as ’n belegging in dié skoolmeisies wat ook die leiers van die toekoms is." April het beklemtoon die insameling is om ’n verskil in die lewe van minder bevoorregte inwoners van die land te maak. Die Maltasklub hoop om teen November hul teiken van 10 000 doekies te bereik wanneer hulle die betrokke skole sal besoek om dit te oorhandig. Enigiemand wat graag ’n bydrae tot die projek wil maak, kan vir mnr. Kurai Chingombe by 081 663 6405 skakel. Kloksgewys van regs onder is me. Ashlyn de Koe, mnre. Kurai Chinyombe, Lazarus Emvula, Gavin Visser en dr. Wilfred April. Foto Tanja Bause
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie