Gimmies bult spiere in interhoër teen WHS

Met drie drieë teen een was daar nie teenspraak dat die rooies hul sege verdien het nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - As deel van hul jaarlikse interhoër was Saterdagaand se rugbybotsing tussen die o.19 eerste spanne van Samsung Windhoek Hoërskool en die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium Leeus nie 'n ligawedstryd nie.

Dit is waarskynlik van die min goeie nuus vir die WHS Koedoebulle, wat hulle met 5-28 teen 'n oorheersende, meer afgeronde Gim-span vasgeloop het.

Voor 'n bykans stampvol Vegkop-stadion het WHS se veggees om die telling ná die eerste helfte net op 0-6 te hou, waarskynlik sy tol geëis terwyl die sagmaakproses van die rooi-en-swartes aan die gang was.

Geel kaarte vir stut Marco Meuwesen en haker JC Rossouw (sowat twee minute voor rustyd) het die leemtes in die dissipline aan WHS-kant blootgelê, hoewel die saak ook uitgemaak word dat beide dié beslissings deur skeidsregter Jacky Husselmann aan die omstrede kant was.

Nadat die eerste 35 minute tot rustyd deur 'n redelike taktiese skopstryd en yslike plettervatte aan beide kante gekenmerk is, het Windhoek Gimnasium in die tweede helfte die kwesbare plekke in die WHS-agterlyn begin aanval.

'n Kraglopie deur stut Ethan Thiart sowat vier minute ná die hervatting het die deur geopen vir die eerste drie deur haker Shaun van Wyk.

Losskakel Cornez Liebenberg, wat reeds twee strafdoele in die eerste helfte oor die dwarslat gelig het, het weer verdoel (13-0).

Liebenberg se derde strafdoel het 14 minute ná rustyd die telling verder laat aangroei, voordat sy linkervleuel Mell Theunissen met 'n sterk lopie en aftrap na binne verby twee verdedigers die pad na sy drie agter die pale gevind het (23-0).

In dieselfde beweging kon WHS se regtervleuel Donavan Resandt sy sterre dank dat hy nie afgestuur is vir 'n kopstamp teen Gimnasium se stut Herschell van Wyk nie.

Die vlagman het die insident aan Husselmann uitgewys, wat die WHS-speler net gewaarsku het.

Gimnasium se heelagter Aiden Louw is op die voorvoet weggestuur om sy drie in die linkerhoek te gaan druk, wat dié keer die doelskop buite Liebenberg se bereik geplaas het.

Die WHS-flank Rikus van Staden se onverdoelde drie in die hoek ses minute voor die eindfluitjie was te min en te laat vir die bloues om hond haaraf te maak.

WHS se afrigter, Henry Kemp, het agterna gesê die nuwe kombinasie in sy agterlyn het nog nie na wense gevlot nie en was een van die aspekte waaraan aandag gegee sal word voor komende Saterdag se ligawedstryd teen die besoekende Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool.

“Ons het net vier matrieks in die eerste span en is dus in 'n bietjie van 'n boufase, maar het ingeklim teen 'n baie sterk Gim-span,” het hy gesê.

Die Leeus se afrigter, Jaco Engels, was beïndruk met sy span: “Ons is baie trots op ons seuns, want die wedstryd was baie fisiek en die humeure het soms amper die oorhand gekry, maar ons dissipline was baie goed.

“In die tweede helfte was daar meer vloei en het ons agterste drie manne die spasie begin uitbuit. In die gees van die dag was dit vir seker 'n baie aanskoulike wedstryd.”

• Die rugby-interhoër het vir Gimnasium met groot sukses afgeloop, met oorwinnings vir die o.19 tweede span (36-14), derdes (13-10) en vierdes (22-19).

Gimmies se o.15A's (43-5), o.15 B-span (20-15), o.14A's (43-7) en o.14B's (29-17) het ook spogreg ná die interhoër.



MOMENTUM O.19 PREMIERLIGA

Die verdedigende kampioen, KMC/JCC Windhoek Affies, het sy veldtog in die nuwe seisoen met 'n eensydige wegholsege van 43-0 teen die nuwelingspan in die o.19 premierliga begin.

Affies het van Walvisbaai teruggekeer sonder om een punt teen die Hoërskool De Duine af te staan.

Met drieë deur die agtsteman en kaptein Bernhardt Wessels (3), loskopstut Ernst Lowe, binnesenter Louis Karsten, slot Adriaan Kotze en flank Kobus Wilders het die Windhoekers hul stempel afgedruk, terwyl losskakel Keanu Engelbrecht met vier doelskoppe getref het.

“Dit was maar soos enige wedstryd so vroeg in die nuwe seisoen – ons het stadig begin, maar het wel goed geëindig. Dankie aan De Duine vir 'n goeie wedstryd en welkom in die premierliga,” sê Affies se afrigter, Johan Zaayman.

Sy eweknie van De Duine, Karl Cookson, sê dit was 'n harde vuurdoop.

“Ons spelers het ondervind dat die tempo van die wedstryd vinniger is as waaraan hulle gewoond is, maar ons sien steeds kans vir die liga. Ons verwag nie wonderwerke nie, maar bly werk aan ons prosesse.

“Vir 'n eerste uitstappie is ek tevrede – ons kan net beter raak.”

• Namib Diesel Walvisbaai het op sy tuisveld waardevolle punte ingesamel teen OK Foods Moria Privaatskool, die span van Outjo wat laas jaar met hardnekkige en aanskoulike hardloop­rugby vierde klaargemaak het.

Die draers van die oranje truie was met 17-5 aan die wenkant, te danke aan drieë deur agtsteman Victor van der Watt en vleuels Curyn Blizzard en Jivino Polster.

Ook hier het toeskouers 'n baie harde kragmeting gesien tussen twee spanne wat hard verdedig en 'n vinnige tempo gehandhaaf het, maar ook deur ongedwonge foute gekortwiek is wat later in die seisoen beter kan gaan.

Moria se afrigter, Lukas Holtzhausen, se seun Niel het as senter sy span se enigste drie gedruk.

“Dit was nie vir ons 'n goeie begin nie, met swak besluitneming en swak afronding wat vir Walvisbaai kanse gelaat het,” sê die verloorders se afrigter.

• Op Tsumeb het Rubicon Tsumeb Gimnasium met 25-14 die knoop teen Pupkewitz Haval Elnatan deurgehaak.

Die tuisspan se agtsteman Pieter Daan Kok, flanke Andries Steenkamp (2) en Benjamin Boshoff was sy driedrukkers, Losskakel Bothma Keyser het 'n doelskop en strafdoel bygevoeg.

Die Stampriet-span se haker DP de Jager het beide hul drieë gedruk, wat deur losskakel Corné Esterhuysen verdoel is.

Teen rustyd was Tsumeb reeds met 22-7 in beheer van sake.

“Soos altyd het die plattelandse spanne mekaar fisiek opgekeil, maar die dissipline was baie goed, met geen kaarte nie,” vertel Tsumeb se afrigter, Wouter Niehaus.

“Ek dink Elnatan was effens verroes deurdat hulle soos ons nie in die skoolvakansie gaan toer het nie. Danksy ons beter wedstrydfiksheid kon ons voor rustyd 'n paar drieë druk om voor te wees.

“In die tweede helfte het Elnatan met 'n geweldige poging teruggeveg en het ons manne met mening getoets.

“Elnatan het vanjaar 'n swaar pak en groot senters en as hulle fiks raak, kan hulle verrassings lewer. Eers met die heel laaste beweging kon ons weer 'n strafdoel byvoeg.

“Ons lostrio was uitstaande en ons jonger spelers het hul man gestaan.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!