Geingob veroordeel internasionale terreur

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Pres. Hage Geingob het gister in ’n sterkbewoorde toespraak internasionale terreur en terrorisme veroordeel en Namibië se meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffers betuig.
Hy sê in die verlede is vryheidsvegters dikwels terroriste genoem. Die rede waarom vliegtuie op 11 September 2001 in die tweelingtorings in New York vasgevlieg het; selfmoordbomontploffings in die besige lughawe-eindpunt in Brussel; wilde skietery en selfmoordbomaanvalle in Parys; ’n bestuurder wat met ’n vragmotor in ’n skare in Nice injaag en ’n aanval op passasiers op ’n trein in Duitsland, is volgens Geingob glad nie ’n bevrydingstryd nie, maar word deur haat gemotiveer.
Hy het dit gesê tydens die opening van die konferensie om Namibië se buitelandse beleid te hersien.
In ’n veranderende wêreld het dit nodig geword om die beleid in pas te bring met ’n vinnig veranderende internasionale geopolitieke landskap.
Geingob het die voorbeeld genoem van Suid-Afrika wat in die afgelope jare sy posisie as die grootste ekonomie in Afrika aan Nigerië moes afstaan. Hy het ook gewys op die 24-uur ononderbroke nuussiklus waar inligting in werklike tyd oral in die wêreld versend word en gesê benewens regerings, speel nieregeringsinstansies soos multinasionale korporasies en selfs individue, soos Bill en Melinda Gates, nou ’n belangrike rol in beleidvorming.
Die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het in haar toespraak ook op die veranderende wêreld gewys en gesê in 1990 het Namibië net meer as ’n miljoen mense gehad. Vandag staan die bevolking op nagenoeg 2,5 miljoen mense.
In 1990 het die Verenigde Nasies (VN) 160 lidlande gehad en vandag is 193 lande deel van die organisasie.

Geingob sê om hierdie rede is dit noodsaaklik dat diplomate deurlopend op die hoogte van internasionale gebeure bly en in staat moet wees om dit blitsvinnig te ontleed en gepaste strategieë te ontwikkel.
Geingob sê Namibië kan nie voortgaan om ’n diplomatieke doktrine, geskoei op dié van die Koue Oorlog, te hê nie.
In ’n elektroniese wêreld waar kuberkrakers in staat is om van veraf netwerke in te sypel en groot skade te berokken en waar sosiale media ’n al hoe groter rol speel, moet Namibië aanpas.
“Diplomasie moet nie net ons vrese nie, maar ook ons aspirasies weerspieël,” het Geingob gesê.
Hy het opnuut sy vergelyking van die Namibiese huis gebruik en gesê dit is ook belangrik om die “woonbuurt” waarin die huis is, in ag te neem.
Gevolglik is dit belangrik vir Namibië om ag te slaan op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) “want as daar probleme en konflik is, stel dit die Namibiese huis in gevaar.”
Hy sê dit is ook om dié rede dat Namibië sal voortgaan om aan vredesendings van die Afrika-unie deel te neem.
Geingob sê die mense van Afrika sal altyd welkom in Namibië wees. Om hierdie rede sal Namibië as eerste stap eersdaags begin om visums met besoekers se aankoms op die lughawe uit te reik. Op die lange duur sal visums vir Afrikane heeltemal afgeskaf word.
Geingob het diplomate aangesê om ’n bydrae tot die skepping van voorspoed in Namibië te speel en ekonomiese diplomasie te beoefen.
“Regerings alleen kan dit nie doen nie en ons het ook die private sektor nodig. Diplomate moet in die buiteland ook met die private sektore kontak maak en beleggingsgeleenthede in Namibië onder hul aandag bring,” het hy gesê. Hy het die Namibiese ambassade in Washington uitgesonder vir die goeie werk wat hulle in die verband doen en ander aangeraai om hul voorbeeld te volg.
“Ons moet aanpas by veranderende tye en by ’n veranderde wêreld, maar steeds getrou bly aan ons eie identiteit,” het Geingob gesê.
Namibië se missiehoofde, afgevaardigdes van ministeries, parlementslede, akademici, verteenwoordigers van die burgerlike samelewing en ander belanghebbendes woon die konferensie by wat tot Vrydag duur.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!