Fietsrit van 12 000 km oor ses maande aangepak

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die afgetrede Suid-Afrikaner, mnr. Johan Joubert, wat 12 000 km met sy fiets oor die volgende maande tot in Egipte, Kaïro gaan ry, het Woensdag in Windhoek aangekom.
Met sy aankoms het hy reeds 23 dae lank van Agulhas in die Wes-Kaap op sy fiets gery – nadat hy die rit op 21 Junie begin het. Hy hoop om die rit deur Afrika in vyf tot ses maande te voltooi en sê hy doen dit ter wille van die ervaringe wat hy gaan hê.
Joubert het homself op die jong ouderdom van 21 reeds voorgeneem om dié rit aan te pak.
Dit het begin toe hy ná sy matriekjaar in 1974 op Voortrekkerhoogte diensplig moes doen. Sy ouer broer het oor ‘n Desember-vakansie met sy fiets van Pretoria na Bredasdorp gery.
“Ek het toe besluit, as my broer die roete kan aanpak, kan ek ook. Toe ek in 1976 uitgeklaar het, het ek op my vyfspoedfiets dié 1 500 km in nege dae gery.
“Dit is tydens dié rit dat ek besluit het ek wil eendag met my fiets van die Kaap tot in Kaïro ry. Daardie dag is eindelik hier,” het Joubert gesê.
Voor hy egter die rit kom aanpak, moes hy eers die troues van beide sy kinders bywoon en sorg dat sy belastingvorms ingedien word.
“My seun en dogter moes al twee hul troues vóór 1 Julie afhandel, want anders sou ek dit nie kon bywoon nie. My dogter het in Mei getrou en my seun kort voor ek van die Strand weg is.
“Ek het op 8 Julie by die Strand weggetrek en het Namibië op 19 Julie binnegekom,” vertel hy.


FIETSRY IN DIE MAANSKYN
In die aanlyn-inskrywings wat hy by johancycleafrica.wordpress.com byhou, vertel hy dat hy ná Noordoewer se grens by die eerste winkeltjie stilgehou het en sy afstandmeter het aangedui dat hy presies 1 000 km afgelê het.
Daarna het hy in die maanskyn fiets gery.
“Die son se verdwyning en die maan se verskyning was minute uitmekaar. Pragtige gesigte. Ek het my 100 km vir die dag gedoen. Toe dit begin skemer raak, het ek besluit om nog ‘n 20 of 30 km verder te trap.
“Nou lê ek langs ‘n bruggie in die sandloop in my tent en luister na die absolute stilte – in die volmaan – net 45 km buite Grünau,” het hy geskryf.
Daarna het hy op ‘n lodge saam met jagters uit Kakamas en Italiaanse toeriste ‘n afskeidspartytjie gehou en later in sy tentjie by ‘n vulstasie op Rehoboth oornag.
Joubert sê hy het altesaam al veertien keer vakansies wat elk drie weke lank was in Namibië kom hou. “Namibië is ‘n liefde vir my,” het hy gesê.
Hy het ook noue bande met Namibië. Sy ouers het aanvanklik op Otjiwarongo gewoon en enkele maande voor sy geboorte na Bredasdorp getrek. “Ek is dus in Namibië ‘gemaak’. Ek is eintlik ‘n produk van Namibië,” spot hy.
“Ek ry tussen 60 en 100 km per dag en probeer op dorpe oornag. Keetmanshoop en Asab is egter 132 km uitmekaar geleë, dan moet ek verder ry. As die wind reg waai en die pad gelyk is, gaan dit makliker. Ek ry meestal maar tot waar ek kan kom.”
Joubert sê hy ry sowat 500 km per week.
“Dit is 12 000 km tot in Kaïro. Ek behoort dus oor vyf tot ses maande daar aan te kom. Ek het egter nie ‘n vaste einddatum nie.”
Joubert sê hy sal daarvandaan terugvlieg huis toe.


VOORRADE
Hy sê sy fiets is ‘n standaard bergfiets en weeg saam met sy bagasie sowat 55 tot 60 kg, afhangende van hoeveel water hy saam neem.
Hy hou sowat drie dae se kosvoorrade by hom en koop ook kos langs die pad. ‘n Tent en matras tel ook onder sy bagasie en hy ry sy eie gereedskap en bykomende onderdele vir sy fiets saam.
Bed- en ontbytgeriewe is nie in sy begroting ingesluit nie.
“Ek oornag soms by kampeerplekke. Andersins sal ek vir hoofmanne by krale vra of ek my tent daar kan opslaan. As hulle instem, geniet jy die beskerming van die hoofman en sal mense wat daar woon nie aan jou raak nie. Dis hoe dit in Afrika werk,” sê hy.
Joubert sal voorts op Okahandja by vriende oorslaap en daarna na Katima Mulilo reis. Daarna volg Zambië en Malawi, waar hy al langs die meer sal ry. Hy hoop om teen die wild se migrasietyd by Arusha en Serengeti in Tanzanië te wees, waar sy vrou haar ‘n ruk lank by hom sal aansluit.
Daarna sal hy alleen verder deur Kenia, Ethiopië, Soedan en Egipte reis. In Egipte sal hy besoek aan Abu Simbel, Aswan, Luxor, Bur Safaga asook die Rooisee bring, voor sy reis in Kaïro eindig.
“Die pad is vanuit Suid-Afrika tot in Kaïro geteer,” sê hy.
Joubert vertel hy leer paaie heeltemal anders ken as hy dit met ‘n fiets ry.
“Jy wérk heel pad en sit sewe tot agt ure per dag op ‘n fiets. Jy onthou jare daarna nog al die dele waar jy swaar getrap het.
“ Die pad na Windhoek toe is soos om trappe te klim – op en op. Dit kom jy nie agter as jy met ‘n motor ry nie.”
Joubert sê tydens die afgelope 23 dae het hy op Keetmanshoop ‘n “rusdag” geneem nadat hy ook twee halwe dae in Suid-Afrika kon rus. Hy het gister ook by familie in Windhoek gerus.
“Ek beplan om elke tien dae vir een dag te rus,” sê hy.
Op die vraag hoe sy vrou oor die rit voel, sê hy spottenderwys dit was een van sy huweliksvoorwaardes.
“Ons is in 1981 getroud en ek het toe al vir haar gesê, as ek eendag Kaïro toe ry, moet sy my nie keer nie. Sy het kapsie gemaak, maar ek het vir haar gesê sy sal daaraan gewoond raak.
“Deur ‘n toep op my selfoon kan sy daagliks monitor waar ek is. Ons behou kontak deur middel van WhatsApp en die internet,” het hy gesê.
Joubert het nie kennisse langs die pad waarop hy in gevalle van teëspoed kan staatmaak nie.
“Mense langs die pad help altyd,” sê hy.
Joubert vertel dat sy seun en skoondogter op hul troue vir hom ‘n doppie gegee het wat hy voor op sy fiets vassit.
“Daarop staan ‘Avontuurlus in Afrika! Lief vir pa.’ Die familie staan almal by my.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!