D&M Rail veg terug
D&M Rail veg terug

D&M Rail veg terug

Die multimiljoendollar-tender vir die Kranzberg-Tsumeb-spoorlyn haak vas tussen die tenderraad en die lynministerie, terwyl die voorkeur-tenderaar beweer hy word in die media swartgesmeer.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - D&M Rail Construction het ontken die tender vir die opknapping van die Trans­Namib-spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb is ’n “oop kontrak” en dat die tender op onreëlmatige wyse aan die maatskappy toegeken is.
D&M Rail Construction het voorts alle aantygings ontken van slordige en stadige werk soos in die media berig.
“Jy kan nie sê dit is ’n oop kontrak nie, aangesien dit slegs van toepassing is op die spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb. Sodra die werk voltooi is, kom die kontrak aan ’n einde,” het ’n D&M Rail-vennoot, mnr. Jack Dempsey, gesê.
D&M Rail se besturende direkteur, mnr. Dawie Möller, ontken ten sterkste die maatskappy se werk is slordig en het gesê daar is tydens die 34 terreinbesoeke­ – een per maand – met die ministerie van werke en vervoer, TransNamib en Windhoek Consulting Engineers­ (WCE) nog geen klagte ontvang nie.
Möller het spesifiek daarop gewys dat die ministerie se direkteur van spoorweg-aangeleent­hede, die Zimbabwiër Justus Ncube, tydens ’n inligtingsessie by die ministerie in Julie gesê het hy was tevrede met D&M Rail se werk en die prosesse wat die maatskappy gebruik.
Dit is onduidelik watter spoorweg-deskundige in die ministerie aantygings van slordige werk gemaak het. Möller het egter erken werk aan die projek is weens ’n gebrek aan geld ietwat vertraag.
Dempsey en Möller meen hulle word onregverdig in die media aangeval, waar ’n verhouding met prokureur-generaal Sacky Shanghala en die meerderheid aandeelhouer van D&M Rail Construction, mnr. James Hatuikulipi, “geskep word”.

AGTERGROND
Namibia Rail Construction (Pty) Ltd (NRC) is ’n gesamentlike onder­neming tussen Trans­Namib en D&M Rail Construction wat gestig is om gesamentlik spoorwegprojekte in Namibië uit te voer, aangesien sinergieë geïdentifiseer is waardeur die hulpbronne van die twee maatskappye mekaar aanvul.
Tot op hede is werk vir verskeie private spoorsylyn-eienaars uitgevoer, maar nog niks vir die regering nie.
Volgens die tenderraad het twee maatskappye, NRC en Eagle Customs Clearance CC wat aan mnr. Ambrosius Shetunyenge behoort, voldoen aan die vereistes vir die opgradering van die Kranzberg-Tsumeb-spoorlyn en die verkryging van aanskaffing van ballas vir fase 2 van die projek.
NRC het N$36,2 miljoen getender om die werk binne 150 dae of binne 608 dae af te handel, soos in tenderdokumente bepaal.
Eagle Customs Clear­ing het N$89,8 miljoen getender om die werk in 608 dae te voltooi.
Met ’n groot verskil van meer as N$53 miljoen in die bod het WCE, TransNamib se raadgewende ingenieurs, voorgestel dat D&M Rail die tender kry aangesien dit die beste pryse aangebied het. Die tenderraad het ook Eagle Custom Clear­ing se tender­aansoek afgekeur omdat hulle nie aktief in die spoorlyn-sektor­ bedrywig is nie.

HOFSAAK
Ten spyte daarvan het Eagle Custom Clearing die tendertoekenning in die hof uitgedaag en aangevoer dat die toekenning van die tender onreëlmatig was. Die grootste twispunt was dat D&M Rail nie voldoen het aan die ministerie se nie-verpligte 15% “koevertreël” nie. Dié reël skryf voor dat ’n bod binne 15% bo of onder die verwagte koste van die projek moet val.
Eagle Custom Clearing was binne 5% van die geskatte koste terwyl NRC veel laer getender het omdat vervoerkoste na die sylyn nie ingereken is nie. Die rede hiervoor is dat dit oor ’n steengroef op ’n private sylyn langs die Kranzberg-Tsumeb-spoorlyn beskik en dus nie vervoerkoste sou hê nie.
Ten spyte van ’n tenderreël wat bepaal dat items waarvoor pryse nie deur ’n tenderaar ingedien word nie, as vanselfsprekend aanvaar word dat dit by die totale prys ingesluit is, is NRC aangeval omdat dit nie die koste van vervoer ingesluit het nie.
“In ’n geval soos hierdie sou dit nie gepas wees om die koevertreël toe te pas nie, aangesien die vervoer­element tot by ’n sylyn ’n noemenswaardige impak op die tenderprys het,” het Dempsey gesê.
Hooggeregshofregter Shafimana Ueitele het die toekenning van die tender aan NRC in Maart tersyde gestel en die saak na die tenderraad terug verwys. Die kwessie draai nou tussen die tenderraad en die ministerie van werke, wat blyk daarop uit te wees om die tender aan Eagle Custom Clearing toe te ken.
Hoewel die ministerie se skakelafdeling nog nie op vrae gereageer het nie, het permanente sekretaris Willem Goeie­mann verlede Vrydag gesê die ministerie volstaan by sy voorstel.
“Die vraag bly egter waarom word ’n leidende entiteit in die spoorwegsektor wat die beste waarde vir geld bied, nie deur die ministe­rie ondersteun nie,” het Dempsey gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!