u2018Aanspreeklikheid, deursigtigheid boesem vertroue inu2019
u2018Aanspreeklikheid, deursigtigheid boesem vertroue inu2019

‘Aanspreeklikheid, deursigtigheid boesem vertroue in’

President praat reguit op Voice of America
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Pres. Hage Geingob was Woensdag ’n waardige ambassadeur vir Namibië toe die aanbieder, Shaka Ssali, op die Voice of America Straight Talk Africa-­program ’n onderhoud met hom gevoer het.
Gevra oor ’n tipiese dag in die lewe van ’n Namibiese president, het hy gesê hy word vroeg wakker, lees die koerante, luister wêreldnuus en gaan dan werk toe. Indien hy by Staatshuis tuisgaan, stap hy kantoor toe en indien hy by sy private woning is, ry hy met ’n konvooi van net twee voertuie werk toe.
Gegewe sy wye ondervinding en indrukwekkende CV het hy gesê hy hou van uitdagings. “Die mense het my met ’n groot meerderheid in hierdie posisie geplaas. Daar is baie verwagtinge en dit bring groot verantwoordelikhede mee. Een mens kan dit nie alleen doen nie. Dit verg spanwerk. ’n Mens moet begin met stelsels in instansies en nie individue nie,” het hy gesê.
Hy het ook daarop gewys dat al die take wat hy oor die jare in opdrag van Swapo verrig het, hom goeie blootstelling gegee het en dat hy die voorreg gehad het om baie Afrika-leiers te ontmoet. “Ek kan enige plek in Afrika woon en tuis voel,” het Geingob gesê.

Helde
Gevra oor wie sy helde is en wie hom geïnspireer het, het hy oudpres. Sam Nujoma en die voormalige Kubaanse leier, Fidel Castro, uitgesonder. “Ek het Kuba in 1977 saam met Nujoma besoek. Ons het Castro ontmoet. “Nujoma het verduidelik dat Namibiërs nie gaan veg vir bevryding nie, maar dat bevryding by die stembus verwerf sal word. Castro het vir ’n volle uur net geluister en hom nooit in die rede geval nie. Hierna wou Castro weet: ‘Gaan julle wen?’ waarop Nujoma geantwoord het: ‘Met harde werk sal ons wen.’”
“Kuba het nie goud uit Afrika gevat nie, net die oorskot van hul mense wat daar dood is,” het Geingob gesê.
Oor sy visie vir Namibië het Geingob sy metafoor van die Namibiese Huis verduidelik en gesê dit is ook sy ideaal vir Afrika waar die grondwet die fondament is en die ver­skillende etniese groepe die boustene. Wanneer die voltooide huis uiteindelik gepleister en geverf is, is daar geen onderskeid nie en bloot een Namibië, een nasie.
Oor die skryf van die Namibiese grondwet in ’n rekord 80 dae, terwyl aanvanklik verwag is dat dit so lank soos twee jaar sou duur, sê Geingob hy het die verskillende partye se konsepgrondwette bestudeer en besluit om nie te onderhandel oor die sake waaroor ooreenstemming was nie en te fokus op die verskille. Hy het ook moeite gedoen om die leiers van die verskillende partye te ontmoet en gerus te stel dat hulle vrese vir die toekoms bloot die vrees vir die onbekende is, omdat almal dieselfde dinge vir hul kinders begeer.
Die omstrede derde ampstermyn van Nujoma het volgens Ssali moontlik ’n voorbeeld gestel wat onlangs deur Burundi se pres. Pierre Nkurunziza gevolg is. Die stap het tot groot­skaalse geweldpleging in Burundi gelei. Geingob het hierop gesê dit is noodsaaklik om na die Grondwet en die werklikhede op die grond te kyk. Die ekstra vyf jaar vir Nujoma is gevolg deur pres. Hifikepunye Pohamba wat na afloop van sy twee termyne die tuig neergelê het. “Ons het ’n ramp afgeweer,” het Geingob gesê.

Armoede
Oor sy oorlog teen armoede het hy gesê hy wil armoede uitwis en nie net verlig nie. “Namibië is ’n ryk land, maar met baie ongelykheid. Ons het ’n klein bevolking en ’n groot land. Ons moet nie dinge halfpad doen nie. Ek wil hê armoede in Namibië moet teen 2025 uitgewis wees.”
Hy het ook daarop gewys dat Afrikane baie maklik praat en goeie planne kan beraam, maar nie goed vaar met implementering nie. ’n Gesonde argitektuur vir staatsbestuur is die antwoord. Aanspreeklikheid en deursigtigheid boesem vertroue in. “Afrika het vertroue in ons as leiers verloor,” het Geingob bygevoeg.
Ssali wou ook weet oor die vrywillige manier waarop Geingob sy persoonlike bates verklaar het, sonder dat hy onder enige verpligting was om dit te doen. “Ek het net gedink, kom ek stel die voorbeeld van deursigtigheid. Ek kan mos nie aanspreeklikheid en deursigheid van my ministers verwag as ek nie ’n voorbeeld stel nie,” het hy geantwoord.
Toe Ssali ’n vergelyking wou tref tussen Namibië en Brasilië en tussen 400 000 en 500 000 mense wat sedert onafhanklikwording in Namibië uit armoede opgehef is, vergelyk het met die 20 miljoen wat onder die bewind van pres. Lula da Silva oor ’n tydperk van agt jaar opgehef is, het Geingob gesê: “500 000 is beter as niks. Ons kom uit ver­skillende agtergronde en Namibië het ’n verlede van rassisme en apartheidsdiskriminasie. Het hulle dieselfde onderdrukking gehad?”

Grond
In antwoord op ’n intekenaar op sosiale media se voorstel dat die regering grond aan elke Namibiër moet gee, het Geingob verduidelik dit is moeilik om grond weg te gee. “Dit is ’n baie ­emosionele saak en ons moet uiters versigtig wees. Die grond is deur die witmense gesteel, maar as ’n wit kind op daardie grond gebore word, en nou 50 jaar oud is, is hy of sy net so ’n burger soos ek.
“Ons Grondwet praat van geregtigheid. Ek het ’n eed afgelê om die Grondwet te beskerm en ons Grondwet erken eien­domsreg. Namibië het mense wat het en ook wat nie het nie, en dit is hoekom ons oorlog teen armoede verklaar het. Die beleid van vrywillige verkoper, gewillige koper is ’n stadige proses, maar vrede is baie belangrik. As ’n mens kyk na wat gebeur in sommige lande soos Sirië, besef ’n mens dit is moeilik om te bou en maklik om af te breek.
“Ons gaan nie die grond gryp nie.”
Hierop het Ssali, met duidelike verwysing na Zimbabwe, gevra: “Soos een van jul buurstate?” waarop Geingob “ja” geantwoord het.
Hy sê die belangrikste besluit deur sy presidensie was om korrupsie uit te wis. Om hierdie rede het hy ’n stokkie voor die tender vir die nuwe lughawegebou teen ’n koste van N$7 miljard gesteek omdat nie aan tenderraadprosedures voldoen is nie. Die hof het egter teen die regering se besluit in die guns van die ­tenderaars uitspraak gelewer, en dit is iets waarteen hy sal appelleer, sê Geingob.
Met verwysing na die Millennium Uitdaging Rekening (MCA) het Geingob gesê 96 persent van die projekte ­ingevolge die skenking van Amerika is geïmplementeer en hiervoor het hy die Amerikaanse regering en oudpres. George W. Bush bedank.
Gevra oor die Internasionale Geregshof in Den Haag en die feit dat van die tien sake wat tans voor die hof is, nege uit Afrika kom, het Geingob gesê Afrika moet sy eie onafhanklike, deursigtige proses hê sodat probleme van die vasteland plaas­lik beredder kan word.
Geingob het egter kritiek uitgespreek oor die wyse waarop die Mandela-Washington-navorsingsbeurse (“fellowships”) behartig word sonder dat die plaaslike Afrika-leierskap geraadpleeg en hul insette gevra word.
Geingob is ook onlangs deur die Afrika-unie versoek om een van die bemiddelaars in die konflik in Gaboen te wees. “Namibië is ’n kind van Afrika- en internasio­nale solidariteit. Ander het baie vir ons opgeoffer, dus kan ons nie nou nee sê nie,” het Geingob gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!