2016 Audi TTS koepee Quatro - onmiskenbaar TT

Gerine Hoff
Dirk Gallowitz – Die Audi TTS is in 2008 in Suid-Afrika bekend gestel saam met die tweede geslag TT-modelle. Plaaslik is daar egter net ’n beperkte aantal van die model verkoop.
Laat in 2015 het die derde geslag TTS plaaslike vertoonlokale bereik en was ons bevoorreg om ’n pragtige, heldergeel model in die eerste kwartaal vanjaar vir ’n paar dae te kon beleef.
Die 2016-model is onmiskenbaar steeds TT en steeds met die ronde petrolklap agter op die heup, maar daar is visueel nou meer trekke na sy haastiger stalmaat, die R8. Die daklyn vloei nou meer soos ’n koepee na agter vir ’n kort oorhang en wye wielboë wat styf oor die agterwiele span.
Visueel verskil die TTS van sy TT-boet met ’n groter sierrooster wat laag oor die pad duik en fris luginlate voor aan weerskante van die voorste buffer. Die hoofligte aan die TTS is volledig LEDs en die kantspieëls is normaalweg silwer, maar was in swart afgewerk op ons toetsmodel.
Agter is daar vier fris uitlaatpype en ’n drukvlerk wat outomaties oplig wanneer 120 km/h bereik word.
Die vooraansig se moderne voorkoms met skerp en hoekige lyne, straal ‘n sportiewe aggressie na buite wat visueel tref.
Binnekant is die kajuit knus, luuks en met uitstekende vakmanskap en materiale afgewerk. Die twee sportsitplekke is met ’n “S”- kenteken in die rugleuning afgewerk. Dofgepoleerde aluminiumstroke en nog ’n aantal “S”-insignia het die oormatig somber afwerking in ons toetsmodel effe opgekikker.
Die voorpaneel is skoon en bykans minimalisties en is my persoonlike voorkeur van hoe ’n sportmotor se kajuit moet lyk en voel. Daar is tegnies nog twee sitplekke agter, maar is meer geskik vir baie klein mensies of handsakke.
Die skakelaars vir die klimaatbeheer en lugvloei is vernuftig in die drie ronde luginlate geïnkorporeer.
Alle ander funksies vir klank, kommunikasie, SatNav, ritinligting, enjinbeheer en bestuurderhulp word op ’n enkele, hoë definisie kleurskerm vertoon wat ook as die instrumentpaneel agter die stuurwiel diens doen. Beheer is via ’n enkele draaiknop op die middelkonsole voor tussen die sitplekke, asook met skakelaars op die stuurwiel.
Die instrumentasiebeeld kan gewissel word vir ’n verskeidenheid van opsies en voorkomste wat verander na gelang van keuse. Kies jy die sport-opsie is die toereteller byvoorbeeld prominent. As jy die navigasiestelsel kies, dan vertoon die kaart of roete omtrent die hele skerm vol.
Dit bly een van my gunsteling-stelsels in hedendaagse motors en is deesdae in al die jongste Audi-modelle beskikbaar.
Die TTS word gedryf deur ’n soortgelyke 2.0 liter turboaangejaagde petrolenjin wat deur Ingolstadt se witjasse getoor is en ook in die jongste Audi S3 gebruik word. Piekkraglewering is 210 kW met ’n fris 380 Nm wringkrag wat deur Audi se bekende Quattro-stelsel die krag na al vier die wiele stuur via ’n 7-spoed “S-tronic” dubbelkoppellaar outomatiese ratkas.
Platvoet neem die 0-100 km/h lopie slegs 4,8 sekondes en topspoed word elektronies tot 250 km/h beperk.
Op die pad het die geel TTS beïndruk met goeie dinamika, uitstaande hantering en uitstekende verrigting. Met my regtervoet geplant het die enjin, met die hulp van die enjinrekenaar en ’n spesiale klep in die uitlaatstelsel, ’n diep (weliswaar kunsmatig) maar tog genotlike gedreun onder uit sy maag gelewer!
Die stuur is effe lig teen hoë spoed, maar het tog vertroue ingeboesem deur die draaie en swiepe. Ek het min van die tipiese stuurtraagheid bespeur wat so kenmerkend is van sekere Quattro-modelle waar die draaitjies kort en knap was.
Na ’n heerlike paar dae van lekker speel, was ek maar traag om ons toetsmodel te gaan teruggee.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!