
’n Teeltrop swartwitpense soos hierdie het die naweek vir twee nuwe rekordpryse in die land gesorg. Een teeltrop (een bul en twee koeie) is teen N$170 000 stuk van die hand gesit, die rekord dusver in Namibië. Die rekordhouers van die tweede hoogste prys was ’n teeltrop wat ten N$160 000 stuk verkoop is.
DIE agtste jaarlikse wildveiling van African Wildlife Services het die afgelope naweek op ’n hoë noot geëindig met rekordpryse vir minstens vyf verskillende dierspesies en goeie pryse vir wildsbokke in die algemeen. “Ons is baie ingenome met die opkoms en die uitslag van die veiling,” het dr. Hans-Otto Reuter van African Wildlife Services gesê.
Vanjaar was die tweede jaar wat die onderneming ’n lewendige wildveiling, gekombineer met ’n katalogusveiling, op die plaas Okosongoro aangebied het. Die eienaar van die plaas, mnr. Peter Clausen, is ’n bekende onder wildboere en het oor die laaste twee jaar ’n boma op die plaas laat bou wat hoofsaaklik vir die veiling gebruik word.

Wit gemsbokke wat van ’n plaas in die Maltahöhe-omgewing afkomstig is, was een van die interessante dierespesies by die veiling. Die hoogste prys wat vir een betaal is, is N$31 000.
Die diere wat lewendig opgeveil word, is op verskeie plekke in die land gevang en voor die veilingdag staan hulle vir net tien dae in die boma. Sodoende word goeie toestande vir die diere verseker en word hulle so min moontlik uitgeput voordat hulle na hulle kopers vervoer word. Altesame 695 diere is tydens die veiling verkoop.
Die pryse van die diere gemiddeld (en hoogste) per kop is soos volg: 68 swart wildebeeste N$5 257,14 (N$9 000*); 133 blesbokke N$2 300 (N$3 600); 35 blouwildebeeste N$2 600 (N$5 400*); 74 vlaktesebras N$7 357,14 (N$8 500); 10 rietbokke N$12 000 (N$12 000); 27 elande N$6 560 (N$10 000); 9 kameelperde N$12 000 (N$13 000); 39 hartebeeste N$3 400 (N$5 800); 16 bergsebras N$7 600 (N$8 000*); 60 impalas N$3 000 (N$5 200); 22 koedoes N$3 975 (N$6 000); 27 basterwaterbokke/lechwe’s N$22 000 (N$27 000); 8 njalas N$17 000 (N$24 000); 40 gemsbokke N$1 800 (N$2 000); 10 volstruise N$1 500 (N$1 500); bastergemsbokke N$95 000 (N$135 000); 11 swartwitpense N$127 000 (N$170 000*); 58 springbokke N$2 825 (N$4 400); 3 basterhartebeeste/tsessebe’s N$30 000 (N$30 000); 24 waterbokke N$12 333,33 (N$17 000); 8 wit gemsbokke N$29 500 (N$31 000); en 3 witrenosters N$213 333,33 (N$330 000*). Die veiling het ‘n omset van N$6,7 miljoen opgelewer.
*Rekord
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.