22.07.2008

Vakleerlinge in groot getalle opgelei


DIE Namibiese Instituut vir Mynwese en Teg- nologie (NIMT) se noordelike kampus op Tsumeb beplan om oor ’n vierjaar-siklus tussen 800 en 1 000 vakleerlinge te akkommodeer. Die hoof, mnr. Matheus Jason, sê sedert die instituut sy deure op 1 September verlede jaar oopgemaak het, het die vakleerlinge van 64 met die eerste inname na 96 op 1 Maart vanjaar met die tweede inname toegeneem.

Van die kursusse wat by die instituut op Tsumeb aangebied word sluit onder meer in passer en draaiers, ketelmakers, elektrisiëns asook diesel- en motorwerktuigkunde. Die huidige personeel van NIMT op Tsumeb bestaan uit 23 permanente en ses tydelike werkers. Mnr. Jason sê aangesien die meerderheid van die volk in die noordelike gebiede woon, het ’n behoefte ontstaan om die instituut op ’n sentrale plek in die Noorde te vestig.

Hy sê tussen 7 000 en 8 000 aansoeke om opleiding aan NIMT word met elke semester ontvang en slegs ’n beperkte aantal van die aansoekers kan van die geriewe gebruik maak. Die opleiding sluit ook praktiese ondervinding in waar van die studente by werke uitgeplaas word en sodra die opleiding voltooi is, moet hulle ’n ambagstoets by die Nasionale Handelstoetssentrum aflê.

Tydens die opleiding moet studente ook bykomende vakke soos rekenaargeletterdheid, Engelse kommunikasie, omgewingsbestuur en sakebestuur neem sodat hulle beter met kennis toegerus is om die formele mark te betree. Ons fotograaf Francois Poolman het die op- leiding by NIMT op film vasgelê.