
Me. Geraldine Tietz (links), tesourier van die Tsumeb rolbalklubkomitee, en me. Hannelie Potgieter (regs), sekretaris van die komitee.
NA die sukses van die Noordelike Klassieke Ope Rolbaltoernooi kyk die Tsumeb rolbalklub net vorentoe. Daar was 12 genooide klubs vanoor die hele land wat vanaf 24 tot 26 Mei aan die ope op Tsumeb deelgeneem het. “Elke span het agt spelle gespeel en aan die einde van die toernooi was dit ’n groot sukses. Die klub sal gewis weer die toernooi aanbied en dit sal weer ’n sukses wees,” het me. Geraldine Tietz, tesourier van die komitee, gesê.
Die rolbalklub se bedrywighede word deur ‘n komitee bestaande uit ses lede behartig. Hulle is me. Tietz, me. Hannelie Potgieter as sekretaris, mnr. Gerhard Stehle as voorsitter, mnr. Frikkie Fourie as adjunkvoorsitter, mnr. Coni Stam as ‘n addisionele lid en me. Marietjie du Preez as kompetisiesekretaris. Mee. Tietz en Potgieter was grotendeels verantwoordelik vir die reëlings van die Noordelike Klassieke Ope en is ook in beheer van die kroeg en die kombuis by die klub.
Daar was onlangs ligawedstryde tussen Tsumeb en die twee Windhoekklubs Eros en TransNamib gehou. Sosiale en geaffilieerde spelers was welkom om die kompetisie by te woon. Volgens me. Tietz is die Uranium Trips ’n landwye kompetisie wat vanaf 3 tot 6 Julie gaan plaasvind. Daar is N$30 000 op die spel vir die wenspan en spelers van Suid- Afrika kom ook gewoonlik om aan die kompetisie deel te neem.
Die klubkampioenskap is vanaf 12 tot 13 Julie waartydens mans en vroue enkelspelers sal kompeteer vir die kampioen van kampioene- titel van die klub. Die kampioene van verlede jaar is Coni Stam en Marietjie du Preez. Die finale ligawedstryd gaan op 26 en 27 Julie in Windhoek gehou word waartydens al die klubs in Namibië sal deelneem.
Die rolbalweek is vanaf 23 tot 31 Augustus en verlede jaar het agt spelers van Tsumeb hieraan deelgeneem. Spelers van Suid-Afrika neem ook gewoonlik aan hierdie kompetisie deel. Me. Marietjie du Preez is vir die Namibiese rolbalspan gekies om haar land in die 2010 Statebondspele in Indië te verteenwoordig. “Meer en meer mense is besig om rolbal te begin speel. Daar het reeds nuwe mense bygekom wat saam met ons die sport geniet”, het me. Tietz gesê.