22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.02.2010

Tsumeb moet verenig

© Francoise Steynberg
Die burgemeester van Tsumeb, mnr. Engel Nawatiseb, wys met trots die prestige Switserse toerisme-toekenning aan die gemeenskap tydens Bank Windhoek se openingsfunksie.
DIE burgemeester van Tsumeb, mnr. Engel Nawatiseb, het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om te verenig en hande te vat op die Noordedorp waar geleenthede vir almal is. “Kom ons sit die hoop terug in Tsumeb en fokus op die verbetering van die lewens van al ons inwoners.” Mnr. Nawatiseb het die boodskap tydens die amptelike opening van die opgeknapte Bank Windhoek-tak, asook die algemene jaarvergadering van Tsumeb se Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) oorgedra.

“Kom ons stop die gevegte oor partykwessies en selfgesentreerde ideologieë en agendas in die belang van ons dorp.” Hy het die bank bedank vir hul vertroue in Tsumeb deur meer beleggingsinspuitings te genereer, “terwyl ons dorp die uitdaging van ’n verminderde ekonomiese basis en verhoogde aantal werklose mense in die gesig moes staar.

“Histories was mynbou ’n dominante sektor op die dorp en Tsumeb was aan die ontvangkant, maar oor die afgelope tyd het afdankings in die mynbou-sektor verskriklike gevolge gehad, nie net vir werkers nie, maar ook vir die sakeklimaat en inwoners,” het mnr. Nawatiseb gesê.

“Die direkte gevolge kon ons pragtige dorp in ’n spookdorp verander het, maar die vertroue wat sakelui en inwoners in Tsumeb gewys het, het almal geïnspireer en hoop aan die einde van die tonnel geskep.” Hy sê Tsumeb het die toets van die tyd deurstaan deurdat almal saam dapper die uitdagings te bowe gekom het en teruggekeer het na die ou glorie waarin die dorp nou weer verkeer.

Tsumeb het baie voordele en een van hulle is die strategiese ligging daarvan waar dit as deurgang na die noordelike streek en veral na die Etosha Nasionale Park, Angola deur die Trans-Kunene-korridor en via die roete van Tsumeb na Katwitwi vorm. Volgens mnr. Nawatiseb is die munisipaliteit verheug om die fisiese groei op die dorp te sien, beide kommersieel en residensieel, maar veral die verskeidenheid beleggings op die dorp.

Die afgelope jare het Tsumeb nuwe beleggings sien kom, terwyl die munisipale raad ook openbare private vennootskap-inisiatiewe met plaaslike entrepreneurs gesluit het om die dorp verder te ontwikkel, het mnr. Nawatiseb gesê. Nuwe sakeontwikkelinge is onder meer die luukse oord, Kupferquelle (ou karavaanpark), Iveco en die nuwe suurstofaanleg van Namibia Custom Smelters.

Daar is ook planne om die Le Platz-inkoopsentrum uit te brei. “Ek glo dat al die nuwe beleggings ’n positiewe verskil en verandering sal bring en die beeld van ons dorp verder sal verhef.” Voorts het hy gesê dat “Tsumeb die plek is om te wees en alle beleggingspaaie lei na ons dorp”.

As burgemeester handhaaf mnr. Nawatiseb ’n oopdeur-beleid waar sakelui kan kom aanklop vir bystand “om jou sake-aspirasies en -drome tot ekonomiese herstel en volhoubaarheid te realiseer”. Volgens mnr. Nawatiseb is die munisipaliteit verbind tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die perspektief strook met die dorp se vyf jaar strategiese plan.

Die plan fokus op die hertoetrede tot die wêreldmark om ’n klimaat te voorsien wat bydra tot internasionale beleggings, om die rol van die private sektor te verhoog en die van die staat te verminder.

“Die raad het ’n mandaat om ’n omgewing vir belegging te verseker deur die voorsiening van infrastruktuur en gehalte dienste om volhoubare ekonomiese groei te bereik wat ekonomiese voordele en lewensgehalte en bevordering vir die hele gemeenskap inhou.” Mnr. Nawatiseb het ook tydens die geleentheid Tsumeb se internasionale prestige toerisme-toekenning van die Swiss Tourism Awards met trots aan die gemeenskap getoon.