
Besoekers word welkom geheet met hul aankoms in Tsumeb.
DIE burgemeester van Tsumeb, mnr. Engel !Nawatîseb, sê munisipale werkers het ’n verantwoordelikheid om die inwoners van die dorp te dien en moet toesien dat hulle hul pligte nougeset nakom. Mnr. !Nawatîseb sê sommige amptenare skenk nie voldoende aandag aan hul werk nie en dit is onregverdig teenoor die inwoners wat maandeliks vir hul dienste moet betaal asook teenoor kollegas wat dan harder moet werk.
“Dit gebeur dat van die amptenare sommer laat vir werk opdaag, terwyl ander nie die dienste lewer waarvoor hulle maandeliks salarisse ontvang nie. Dit is onaanvaarbaar en kan nie langer geduld word nie,” het mnr. !Nawatîseb gesê. Hy doen ’n beroep op die amptenare om stappe te doen om die standaard van dienslewering te verbeter en sê hy was geskok om te verneem dat die munisipaliteit nie die finansiële state betyds indien sodat dit in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê kan word nie.
“Dit is nie die burgemeester se funksie om hierdie finansiële verslae op te stel nie en indien iemand enige agenda teen die munisipaliteit het om sy werksaamhede te saboteer, sal ons dit met hand en tand beveg.” Mnr. !Nawatîseb sê onderlinge samewerking tussen die amptenare asook met die raad is noodsaaklik en amptenare moet positiewe kritiek kan verwerk en daarop verbeter.
“As van die inwoners ontevrede is oor die optredes van munisipale amptenare moet hulle nie huiwer om dit onder ons aandag te bring nie. Dan kan die probleme reggestel word voordat dit in die media aan die groot klok gehang word en dit die beeld van die dorp skaad,” het mnr. !Nawatîseb gesê.