24.06.2008 Tsumeb-leerlinge presteer
TWEE leerlinge van Tsumeb Gimnasium is beurse by universiteite in Amerika aangebied nadat hulle ‘n goue medalje vir hul omgewingsnavorsingsprojkte tydens ‘n internasionale wetenskapexpo in Texas ontvang het.
Vroeg in Mei het Andries Bester en Jandré Pretorius hul eenheid wat swaeldioksiedvlakke in die lug toets in Houston, Texas, bekend gestel en met ‘n goue medalje daar weggestap. Uit die meer as ‘n duisend inskrywings wat ontvang is, is die aanbieders van slegs 400 projekte genooi om die “International Sustainable World Olympiad for Energy, Engineering and Environment Projects” (ISWEEEP) by te woon.
Namibië is een van 51 lande wat in Texas verteenwoordig is saam met 38 state van die VSA wat ook teenwoordig was. Andries en Jandré is genooi op grond van hul projek wat reeds op die Nasionale Wetenskapuitstalling in Windhoek as kategoriewenner aangewys is. Hierdie uitnodiging was reeds ‘n besondere prestasie, maar hul grootste verwagtinge is oortref toe hul projek een van net 17 was om ‘n goue medalje in die Omgewingskategorie te verwerf.
Nog agtien goue medaljes is gesamentlik in die Ingenieurs- en Energie kategorieë toegeken. Die twee leerlinge het ook prysgeld van U$1 500 verwerf met hul projek wat handel oor die bepaling van swaeldioksiedkonsentrasie in die lug van Tsumeb en ‘n vergelykende ondersoek na die gebruik van verskillende filters.
Die groot sukses van hul projek het gelê in die innoverende gebruik van die apparaat en materiaal wat tot hul beskikking was, asook die hele proses van evaluering en probleemoplossing wat hulle gedoen het. Die prysoorhandiging is waargeneem deur die Nobel Pryswenner van 1996, prof. Robert F. Curl van die Rice Universiteit.
Benewens die goeie blootstelling wat hulle aan hoë standaard projekte van regoor die wêreld gekry het, het die deelnemers ook lesings ontvang by die Rice Universiteit en het hulle op ‘n uitstappie na NASA (National Aeronautics Space Administration) se Johnson Space Centre gegaan. Intussen is verneem dat twee universiteite in Amerika, die Universiteit van Houston en dié van Louisiana, aan Andries en Jandré aanbiedings vir beurse gemaak het.
Volgens me. Ilana Mouton, wetenskaponderwyseres by Tsumeb Gimnasium, is die skool baie trots op die twee leerlinge en het groot waardering vir hul inisiatief, vindingrykheid en deursettingsvermoë. “Ons hoop dat hul prestasie vir al Namibiese leerlinge ‘n aansporing sal wees om geleenthede wat hulle voordoen, aan te gryp.
Die beste wyse om die berg uit te klim, is immers om die eerste tree te gee. “Andries en Jandré se prestasies dien as bewys dat Namibië vir geen land hoef terug te staan nie en dat ons kinders ook internasionaal hul plek kan volstaan.”
‘n Groot dankie gaan aan die uitvoerende direkteur van Milset Namibië, mnr. Jonathan Wilsnach, wat die leerlinge se projek ingeskryf het en al die borge wat die hoogtepunt in die seuns se matriekjaar vir hul moontlik gemaak het, sê sy.
|