Noorderlig


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

24.08.2010

Tsumeb groei op vele gebiede

© Theo Gurirab
Tsumeb en die ganse Oshikoto-streek sal baat by die vestiging van ’n staanplek wat meer as 100 vragmotors en hul drywers sal kan huisves. Die voorgenome perseel sal by die kruising buite Tsumeb opgerig word waar die paaie na Grootfontein, Otavi en Oshivelo skei. Hier hou Tsumeb se burgemeester, mnr. Engel !Nawatîseb, die replika van hoe die staanplek daar gaan uitsien.

’n REUSE staanplek vir vragmotors wat tot 100 van die padreuse kan huisves, verblyfgeriewe vir die bestuurders, ’n swembad, dieseldepot en ’n werkswinkel om geringe meganiese defekte reg te stel, is op die ekonomiese ontwikkelingspyskaart van Tsumeb se munisipaliteit waaraan baie hard in samewerking met die Regering gewerk word.

In ’n buitengewone stap wat daarop gemik is om ekonomiese oplewing vir die dorp te verseker, het die munisipaliteit sy visier gerig om vennootskappe met instansies, die private sektor en die Regering aan te knoop.

Hierdie kuns om naas ander daaglikse inkomste sy omset te vergroot, het Tsumeb in Swede laat kers opsteek waar ’n afvaardiging van die dorpsraad in Mei vanjaar besoek afgelê het. Die dorpsraad is aangemoedig deur wat hulle in Swede geleer het oor hoe om slimvennootskappe met besighede aan te gaan.

Alle ontwikkelingsoogpunte van die dorpsraad spreek van slimvennootskappe om sodoende die munisipaliteit in staat te stel om aandele te kry in al die nuwe nywerheidsontwikkelings wat op die dorp wortel gaan skiet.

Die dorpsraad voorsien die grond wat vir nuwe ontwikkelings geoormerk word gratis en kry sodoende ’n aandeel wat sy geldkoffers sal help aanvul.

• Naas die staanplek vir vragmotors het die munisipaliteit met Iveco-monteerfabriek in ’n private/openbare vennootskap ’n aandelekontrak onderteken.

Die aanleg wat as die Autotech Iveco Assembly Point bekend staan, gaan uitgebrei word om Iveco-busse en voertuie op Tsumeb te monteer en uit te voer.

Dié is byna ’n gedane saak en die amptelike opening gaan volgens die hoof van die munisipaliteit se ekonomiese afdeling, mnr. Lemmy Geingob, binnekort gehou word.

Mnr. Lemmy Geingob
• Smelter
 
Omrede die ou smelter uitgedien is, het die nuwe eienaars, Dundee Precious Metals van Kanada, dit vervang en is hulle besig om uitgediende onderdele met nuwes te vervang.

Sedert die smelter van die vorige eienaars Namibia Custom Smelters oorgekoop is, het die nuwe onderneming onderneem om jaarliks N$1 miljoen uit sy verdienste in die gemeenskap se trustfonds te stort sodat die geld ten bate van die gemeenskap bestee kan word.

Dundee Precious Metals is deur die dorpsraad geloof omdat hy die voormalige personeel oorgekoop en niemand afgedank het nie. Voorts is die onderneming van plan om sy talle tenders aan SME’s beskikbaar te stel.

Die nuwe eienaars van die smelter het ook reeds die munisipaliteit ingelig dat hulle 55 hektaar van hul grond aan die noordekant van die dorp gaan laat diens vir mense wat huise wil bou.
• Droëdokke
 
Die Tsumeb munisipaliteit het ook samesprekings met Namport afgehandel wat daarop gemik was om ’n droëdok op die dorp op te rig. Die afstand na Angola is 140 km korter indien deur Tsumeb gery word op die nuwe teerpad wat tans tot stand gebring word.

Die droëdok gaan sowat 600 meter buite die dorp aan die noordoostekant gebou word. Volgens ’n ooreenkoms met Namport is onder meer besluit om vraghouers wat vir Namibië se noord- en noordoostelike buurstate bestem is, tot op Tsumeb te vervoer, waar die vragmotors van buurstate soos Angola, Zimbabwe en Zambië dit weer kan oor laai en terug draai.

Volgens mnr. Geingob bestaan wetgewing glo wat bepaal dat vraghouers met sekere items net sekere afstande aaneen vervoer mag word.
• Toeristekantoor
 
Die munisipaliteit van die dorp het voorts met die Urban Trust of Namibia geslaagde samesprekings rakende ’n vennootskap gevoer, waarvolgens die vestiging van ’n toeristekantoor op die dorp ’n uitgemaakte saak is.

Omdat ’n gebou nodig is waarin die toeristekantoor gevestig moet word, het die twee instansies kop gekrap om so ’n gebou in die hande te kry.

Die deurbraak was toe die dorp se Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) hulle tegemoet gekom het omdat dit en ’n groot leë geboue beskik wat vir die doel benut kan word beskikbaar gestel het.
• Tsumeb-lughawe
 
Die aanloopbaan van Tsumeb se lughawe word tans opgradeer en die beligting vir die betrokke lughawe is reeds afgehandel. Dit is die beplanning dat die lughawe by voltooiing vliegtuie van alle groottes sal kan hanteer.

’n Doeanekantoor en losieshuise vir vlieëniers en ’n bank waar buitelandse geld omgeruil kan word, sal ook by die lughawe opgerig word. Tans onderhandel die dorpsraad om lugreise na en van Victoria-watervalle te akkommodeer.