24.08.2010 Tsintsabis-skool bou koshuis
 Me. Natasha Tsîbes (links), sekretaresse, en die skoolhoof, me. Betty Beatrice Kaula van Tsintsabis se skool.
IN 1993 open die Junior Sekondêre Skool Tsintsabis sy deure vir die San-inwoners van die Tsintsabis omgewing en neem 135 skoliere tussen die ouderdomme van ses en 21 in.
Vandag, 17 jaar later, staan die leerlingtal op 450 en dringende planne word gemaak om graad 11 en 12 by die huidige spektrum van preprimêr tot graad 10 te voeg. In hierdie stadium het die skool geen projekte wat ’n volhoubare inkomste kan genereer nie.
Die hervestigde gemeenskap maak staat op die Regering se welwillendheid. Skoolfonds beloop N$30 per jaar en die meerderheid leerlinge s’n word uit hul grootouers se pensioenfonds betaal. Daar is egter ’n groot aantal leerlinge wat nie die verantwoordelikheid kan bybring nie.
Die kos wat vir die skoliere bedien word, word uit ’n groot tuin van die skool geoes, asook van die spoggerige visplaasprojek. Vanjaar is die vierde bestaansjaar van die projek.
Die visboerdery dek die koste van skryfbehoeftes en ander benodigdhede. Met behulp van die Lionsklub Internasionaal in Tsumeb het die skool 12 klaskamers, ’n laboratorium en ablusieblok gebou.
Die skoolsaal is deur die vismaatskappy Namsov geborg en tans word ’n koshuis gebou waar 100 leerders kan loseer. Laasgenoemde projek word met die hulp van me. Toos Verbruggen van Nederland en mnr. Gero Julius van Duitsland bestuur.
|