22.07.2008

Steenmaker oorleef brand en vier sy tiende jaar


STEENPRODUKSIE by BCS op Otjiwarongo het byna permanent tot ’n einde gekom ná ’n brand by die aanleg op 11 November 2000, maar agt maande later was mnr. Walter Marko van dié besigheid weer in volle produksie. Vandag word meer as 25 000 stene per dag by BCS gemaak en dit is ook hier waar die enigste weegbrug op Otjiwarongo is.

In Maart 1998 is met die steenmakery op die dorp begin, maar werk is vir ’n wyle onderbreek toe herstelwerk aan die geboue gedoen moes word nadat die brand by die besigheid uitgebreek het. Die stene word hoofsaaklik op Otjiwarongo gelewer, maar klante van Outjo en Okakarara ondersteun ook die besigheid.

Sand word deur ’n siftingsproses gestuur en elektronies met sement geweeg om die mengsel reg te kry. Die stene kan in verskillende vorme en kleur gemaak word en moet dan vir ’n sekere tydperk in die droogkamer lê voordat dit gereed is om gelewer te kan word.

BCS gaan ook begin met die vervaardiging van dak- en vloerteëls en die masjiene om dit te vervaardig is reeds ontvang. Die maak van die stene is op lens deur Francois Poolman vasgelê.