29.11.2011 Sokkerklub hou kinders van strate
EEN man se wens om kinders van die straat te kry en in die skole te hou, is verwesenlik toe die Bongos Swallows sokkerspan op Tsumeb gestig is.
“Die sokkerspan is al verlede jaar gestig, maar die kinders het gekom en gegaan en die span het toe ontbind,” het die spanbestuurder, mnr. Walla Heided, gesê.
Hy het vanjaar weer probeer om die Bongos Swallows aan die gang te kry en spog nou al met 20 leerlinge jonger as 18 jaar wat aan die span behoort.
“Op die oomblik skryf hulle eksamen, maar sodra die skole sluit, gaan ons weer ernstig begin sokker speel,” het hy tydens Noorderlig se besoek gesê.
Vir Heided is dit belangrik om kinders in die skool te hou. “Dit is beter vir hul toekoms as kinders skool gaan en onderrig ontvang.”
Die span was ’n ruk gelede in Windhoek waar hulle teen ʼn hoërskoolspan gespeel het. “Ons het gelykop gespeel en die kinders het dit baie geniet,” het Heided gesê.
Belanghebbendes wat enige bydraes wil maak, kan Heided by 081 231 6597 kontak.
|