24.06.2008 Skuld demp ontwikkeling
DIE Otjiwarongo munisipale raad het ‘n begroting ter waarde van meer as N$55,5 miljoen vir die 2008/2009 finansiële jaar goedgekeur met sowat 83 persent wat vir operasionele uitgawes gebruik gaan word en 17 persent op kapitale projekte.
Sekere tariefaanpassings sal ook van die nuwe boekjaar geld om die beraamde uitgawes te kan dek. Die voorsitter van die bestuurskomitee, me. Suzie Gideon, het met die motivering van die begroting gesê bekostigbare dienste, die bevordering van beleggings en toerisme, die verligting van armoede deur werkskepping en die verbetering van vaardighede van die plaaslike inwoners het as riglyne gedien met die voorbereiding van die begroting.
Voorts was die inflasiesyfer van 7 persent werkloosheid, die nie-beskikbaarheid van subsidies deur die Regering, die skepping van ‘n misdaadvrye gemeenskap en die integriteit van die dorp en gemeenskap in ag geneem. Me. Gideon het ook daarop gewys dat die uitstaande skuld nog onaanvaarbaar hoog is en dat dit ‘n negatiewe invloed op die munisipaliteit se vermoë uitoefen om die ontwikkeling van verskeie projekte aan te pak.
Volgens haar moes sekere prioriteite ook in ag geneem word soos om te verseker dat bestaande infrastruktuur behoorlik onderhou word, die versekering dat die inwoners toegang tot die basiese dienste het, voorsiening van water, sanitasie en riooldienste aan die inwoners, die opgradering van laekoste behuising, die verhaling van skuld vir dienste gelewer, die voortdurende bewusmaking van die inwoners ten opsigte van omgewingsake en die skoonhou van die dorp.
Die raad het besluit om die eiendomsbelasting met 5 persent te verhoog, terwyl watertariewe gemiddeld met 14 persent verhoog word. Verskillende tariewe is voorheen gebruik vir die verwydering van vullis, wat nou op ‘n eenvormige prys geskoei gaan wees. Die goeie nuus vir die munisipale amptenare is dat die raad voorsiening gemaak het vir ‘n salarisverhoging en dat die besonderhede daaroor op ‘n latere stadium bekend gemaak sal word. Voorts moet die raad 14 bykomende poste vul om die werksaamhede vlot te laat verloop.
|