22.07.2008
Sesfontein bly nie afgesny
DIE Damara/Namasprekende inwoners van Sesfontein en op die nabygeleë nedersettings het hulle tot Noorderlig gewend om namens hulle uit te vind hoekom hulle afgesny is van radio-opvangs, die enigste medium wat hulle met die buitewêreld verbind. Noorderlig het met sy navrae oor die aangeleentheid daar op Sesfontein begin waar hy die aangeleentheid met die streekraadslid vir die Sesfontein-kiesafdeling, mnr. Hendrik Gaobaeb, bespreek het.
Goeie nuus vir Sesfonteiners uit die spreekwoordelike perd se bek is dat die NBC-toring by Kamanjab se vermoë binnekort vergroot gaan word om die ganse omgewing te dek. “Huidig kan hierdie toring net in ‘n radius van 120 kilometer seine uitstuur of dekking verleen,” het mnr. Gaobaeb gesê.
Die streekraadslid het voorts vertel dat sy kiesafdeling ‘n bedrag van N$2,7 miljoen van die Ministerie van Myne en Energie ontvang het wat gebruik gaan word vir plattelandse elektrifisering. Die nedersetting, bekend as Otjiondakui, gaan eerste aan die beurt kom om elektrisiteit te ontvang. Wat die mynbedryf in die omgewing betref, het mnr. Gaobaeb gesê dat die mense in sy streek nou wakkergeskrik het en die voorbeeld van kleinmyners in die Erongo-streek volg.
“Ek het verlede week gehoor van die kleinmyners wat baie swaar kry by die plekkie bekend as Xuri-// Gams waar hulle onverpoosd probeer om na halfedelgesteentes kaalhand bo-op die berg te grawe. “Ek het self met my oë gesien dat hulle so diep as vyf meter met hul hande gegrou het om na die gewenste klippies te soek.” “Meneer, ons sal eerder hier bly en na klippe grawe as wat ons sal terug gaan en van honger vergaan of in verkeerde bedrywighede betrokke raak,” het hulle gesê.
“’Die klippies wat ons hier uithaal, verkoop ons aan klipversamelaars wat af en toe hier by ons uitkom, en op daardie manier kan ons onsself sorg,’ het een van die mans uit ‘n groep van sewe mans en ‘n vrou aan my gesê,” sê mnr. Gaobaeb.
Hierdie klipgrawers het voorts vertel dat hulle feitlik bo-op die berg woon omdat hulle bang is vir wilde diere waaronder olifante wat hul grootste gevaar is. “Kry vir ons ‘n klipbreker en ons gaan jou wys wat in ons steek,” het die groep volgens mnr. Gaobaeb gesê.