22.07.2008

Sentrum moet toerisme en versoening bevorder

© Theo Gurirab
Die trustees van die OCCTC-trust is deur mnr. Asser Mbai, Parlementslid, bekend gestel. Hulle is van links na regs op die foto mnre. Vetaruhe Kandorozu en Ernst Katjiku (gewone lede), Penson Mootu (hoof uitvoerende beampte), Wilhelm Gerd Diekmann (tesourier), Zedekia Josef Ngavirue (voorsitter), en Heinrich Reinhard Schneider- Waterberg (vise-voorsitter).
DIE Duitse regering erken sy spesiale morele en geskiedkundige verantwoordelikheid teenoor Namibië in sy geheel. “As bewys dien die grootste ontwikkelingshulp wat in Afrika aan Namibië geskenk word,” het die ambassadeur van Duitsland, me. Ute König, tydens die amptelike opening van die Okakarara Gemeenskap se Kultuur- en Toeristesentrum (OCCTC) op 9 Julie gesê.

“Hierdie verantwoordelikheid was beklemtoon tydens ‘n debat in die Bundestag op 26 Junie, 2008. Maar die kwessie van vergoedingshulp is nie op die sakelys van die Duitse regering nie, en oor hierdie aangeleentheid kan my regering en opperhoof Riruako tot ‘n vergelyk kom,” het die ambassadeur gesê. Me. König het voorts gesê dat sy baie bly is dat die opperhoof sy opwagting by die inwyding van die OCCTC gemaak het wat met ‘n skenking van die Duitse Ontwikkelingsdiens opgerig is.

Sy het voorts die kort geskiedenis van die OCCTC aangehaal en gesê dat die sentrum oorspronklik in 2004 ingehuldig is tydens die herdenking van die “Slag van Hamakari” ‘n 100 jaar gelede. “Dit was tydens daardie geleentheid wat die Duitse minister van ontwikkelingsamewerking, me. Heidemarie Wieczorek-Zeul, haar innemende toespraak gelewer het waarin sy veral vergifnis soos in die Woord van God namens haar land gevra het.

“Die OCCTC se doel is dat dit as ‘n kulturele vergaderplek dien om besoekers uit die buiteland te lok en om ‘n aantrekkingskrag vir ekonomiese ontwikkeling te word.” Nog ‘n baie belangrike aspek hiervan is dat dit as ‘n vergaderplek vir die Herero’s en Duitsers dien om sodoende versoening te bevorder.

“Omdat Duitse toeriste die grootste groep van buite Afrika is wat Namibië besoek, is hierdie sentrum bedoel om ‘n fokus- en ‘n aanknopingspunt te word vir ontmoetings tussen die besoekende Duitse burgers en die Hererokultuur,” het sy gesê. ‘n Trust, bekend as die OCCTCtrust, is in Februarie vanjaar gestig en het die eienaarskap van die veeldoelige sentrum op Okakarara oorgeneem.