Noorderlig


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

23.02.2010

Rustigheid by Roy’s Rest Camp



OP een van die oudste plase in die Grootfontein-distrik is Roy’s Rest Camp met sy rustige atmosfeer, unieke dekor en gasvrye personeel. Roy’s Rest Camp is sowat 55 km noord van Grootfontein op die B8- hoofpad na Rundu geleë. Dit is die ideale oornagplek vir reisigers en avontuurlustiges op pad na die noorde van Namibië, Caprivi en Boesmanland.

Roy’s beskik oor vyf standaardkamers en twee familiekamers wat elk sy eie badkamer en private braaigeriewe het. Alle kamers bevat lugreëling en muskietnette. Die kamers is ’n unieke landelike ontwerp. Ou materiaal wat nie meer gebruik word nie, is kreatief gebruik om die dekor van die kamp en kamers te skep en plaas Roy’s in ’n klas van sy eie.

Vir diegene wat nader aan die natuur wil wees, is daar ook 12 kampeerplekke met braaigeriewe beskikbaar. ’n Gemeenskaplike ablusieblok en kombuis is ook gerieflik naby die kampeerplek geleë en die swembad en eetsaal is binne loopafstand.

Die hoofgebou van Roy’s Rest Camp sluit die eetsaal, swembad, winkel wat handgemaakte kunswerke en aandenkings verkoop en kroeg in, terwyl ’n opelug kuierarea vir groter groepe beskikbaar is. Staproetes om voëls en wild te besigtig, is gewild onder besoekers. Aangesien ’n groot verskeidenheid voëlspesies by die kamp gevind word, is dit ’n groot aantrekkingskrag en selfs die swartwangkatlagter word in die omgewing gevind.

Gaste kan hulle aan die natuur verlustig en ’n watergat is net voor die kamp geleë waar wild vroegoggend of saans kom suip. Om meer van die omgewing te verken, kan wandelpaadjies gestap word. Twee van die wandelpaadjies wat ongeveer oor twee kilometer strek, se bome is ook met naamplaatjies gemerk om besoekers meer van die omgewing te leer.

Sowat 86 km vanaf Roy’s Rest Camp kan besoekers ’n tradisionele San-nedersetting besoek. Roy’s maak ’n klein gedeelte van die plaas Elandslaagte uit, wat sowat 2 800 hektaar groot is – op die res van die plaas word ’n beesen wildboerdery bedryf. Die plaas Elandslaagte bestaan reeds sedert 1930 en het sy oorsprong uit die Dorslandtrek se Alberts-familie.