
Mnr. Mayamba Valks en me. Nyambe Norah van die Rooikruisvereniging op Katima Mulilo by van die items wat hulle aan die gemeenskap in die Caprivi-streek versprei.
DIE Rooikruisvereniging is op Katima Mulilo besig met minstens vyf groot projekte om gemeenskappe in die Caprivi-streek by te staan. Volgens mnr. Mayaba Valks, ‘n tuissorg-koördineerder van die vereniging op Katima Mulilo, is die tuissorgprojek tans een van die grootste projekte waaraan die vereniging in die streek aandag skenk. Met die projek wat in 2004 begin is, word sorg en ondersteuning aan siek mense gebied.
“Ons lei vrywilligers op wat pasiënte wat siek is en veral mense wat aan MIV en vigs ly, by hul huise te besoek,” het mnr. Valks gesê. Sowat 900 vrywilligers is reeds opgelei, terwyl 25 000 mense wat met MIV en vigs lewe deur die program gesteun word. Nog take van die vrywilligers is om inligting oor siektes soos malaria en MIV en vigs aan families te verskaf en hulle te leer hoe om iemand te versorg wat die siektes onder lede het.
Voorkomingsinligting word deur die opgeleide vrywilligers aan die gemeenskappe versprei en hulle moet ook terugvoering oor die voorkoming van moeder-tot-kindsiektes aan die projek lewer, sê mnr. Valks. “Die tuissorgprojek is werklik iets groots wat al baie vir die gemeenskap gedoen het. Vrywilligers wys steeds hul belangstelling om met die programme voort te gaan.”
‘n Tweede projek is die gemeenskapsbemagtigingsprojek wat in 2005 begin is en deur die Spaanse Rooikruisvereniging ondersteun word. Die projek bring winsgewende aktiwiteite op die been om weesen kwesbare kinders in die Caprivi- streek te steun. Volgens mnr. Valks is reeds met sewe sodanige winsgewende aktiwiteite in die streek begin.
Op Sangwali het die gemeenskap ‘n kamp geskenk, by Kongola is ‘n tuinprojek gestig, Choi het ‘n visplaas, by Sachinga en Kaliyangile word met bokke geboer, terwyl beide Kanono en Kikiya met ‘n mielieboerdery begin het. ‘n Nuwe projek van die plaaslike Rooikruisvereniging is vrywillige berading en toetsing vir die gemeenskap wat mense in staat stel om hul MIV- en vigsstatus te bekom en berading te ontvang.
Gemeenskapslede kan toegang tot inligting oor die siekte en ook berading by klinieke ontvang wanneer hulle vir MIV en vigs getoets word. Tans is sowat 24 beraders by klinieke in die streek teenwoordig. Verder sê mnr. Valks dat die ondersteuning aan die vloedslagofferprojek ‘n program van die vereniging is waarmee voortgegaan word. Onder meer versprei die vereniging kos en komberse en tente om skuiling aan mense te bied.
“Ons het ook toilette en storte in kampe help bou, deel watersuiweringstablette uit aan mense wat rivierwater moet gebruik en verspei saad aan mense sodat hulle dit kan plant en hulself onderhou,” het mnr. Valks gesê. Intussen het die Wêreldvoedselprogram wat vir minderbevoorregte kinders gesorg het, aan ‘n einde gekom.
Die program het vir ‘n tydperk van drie jaar voedsel aan minderbevoorregte kinders voorsien en sowat 7 000 kinders in die Caprivistreek was betrokke. ‘n Ander projek wat aan ‘n einde gekom het, is die ramprisikoverminderingsprogram wat veral die San-gemeenskap in die Caprivi- streek bygestaan het.