22.07.2008

Projekte in die Caprivi


DIE grootste kopseer van die Caprivi- streekraad tans is sy begroting wat kort-kort gesny word en ontwikkeling in die streek belemmer. Volgens die goeweneur van die Caprivi-streek, mnr. Leonard Mwilima (foto), ontvang die streekraad ‘n begroting om sekere projekte aan te pak. “Die meeste van ons begroting word egter gesny en ons het amper geen hulpbronne nie.”

Hy meen dat dit die probleem van meeste streekrade is en meen die aangeleentheid moet aangespreek word. Verder sê die goewerneur dat ekonomies lewensvatbare projekte in die streek, soos lodges en wildtuine, hul heffings aan die Regering moet betaal. “Van die geld kan eerder aan die streekraad betaal word sodat die streek ook daaruit voordeel put.”

‘n Ander probleem wat al jare lank ontwikkeling in die streek in die wiele ry, is die kwessie van grondeienaarskap. ‘n Aantal projekte moes al aan die gang gewees het, maar is nie aan die beweeg nie weens die probleem, sê mnr. Mwilima. ‘n Voorbeeld hiervan is die suikerplantasie wat werk aan sowat 4 000 mense kan verskaf. “Met die stigting van ‘n forum van hoofmanne in die Caprivi-streek sal die probleme in die toekoms moontlik verbeter.

Hoofmanne kan bymekaar kom en saam die kwessies bespreek wat ontwikkeling in die streek belemmer,” het die goeweneur gesê. Intussen is die streekraad hard aan die werk om projekte aan te pak waarvan die Waterfront-ontwikkelingsprojek op Katima Mulilo tans die belangrikste is. Mnr. Mwilima sê egter dat die projek baie stadig vorder. Volgens hom is streekraadslede saamgeroep oor die stadige vordering en raadslede is ingelig dat die doelwitte van die projek bereik moet word.

“Die Regering het baie geld in die projek belê en ons moet resultate daarvan sien,” het hy gesê. Verder sê mnr. Mwilima dat vooruitgang met visplase in die omgewing gemaak word. “Visplase bied mense die kans om vir hulself werk te skep en ons sien tans baie vroue wat ook op die plase werk.” Likunganelo, Kalembeza en Lusauli het visplase in die streek na vore gebring. Mnr. Mwilima het ook bygevoeg dat die streekraad voorgestel het om ‘n waterpyp tussen Katima Mulilo en Kongola aan te lê.

Hy sê dat baie mense in die omgewing met water sukkel en op boorgate staat maak. Die lê van die waterpyp sal vier kiesafdelings insluitend Katima Mulilo bedien. “Baie hulpbronne sal vir die projek nodig wees, maar op stuk van sake sal dit die moeite werd wees.” Ander projekte waarmee die raad besig is, sluit die teer van paaie tussen Muyako en Ngoma wat die Ibbo-, Mahundu-, Matikitila- en Ioma-gebied sal bedien.