22.07.2008

Plantasies van ouds moet herleef

© Theo Gurirab
Mnr. Daan Holtzhausen se kontrak met die Regering maak voorsiening dat hy die staat se tuinimplemente, waaronder vragmotors en trekkers, moet gebruik en ook in stand hou. Op die foto is een van die trekkers wat herstel moet word.
VOEDSELSEKERHEID binne die volgende sewe jaar is die wagwoord waarmee mnr. Daan Holtzhausen die toekoms in die verre Damaraland aandurf. ‘n Blink toekoms is dus vir die inwoners van Okuvare, Warmquelle en Sesfontein beskore mits hulle hul gewig agter mnr. Holtzhausen gooi en die sooi help omdelf om die eens beroemde groente- en vrugtetuine van Okuvare en Warmquelle te laat herleef.

Voor onafhanklikwording was die lede van die voormalige Suidwes-Afrikaanse weermag in beheer van hierdie tuine wat meer as 15 hektaar beslaan. Dit was die tyd toe lowergroen mielies, koring, pampoene, waatlemoene en verskeie vrugtesoorte waaronder lemoene, koejawels en suurlemoene in tonne verbou was. Na die ontrekking en die ontbinding van die weermag het die tuine verwaarloos.

Een van die belangrikste oorsake vir die agteruitgang van die tuine is dat die sowat 20 meter lange waterpyp wat water uit die rivier gelei het, stukkend is en uiteindelik weggespoel het. Mnr. Benny Ganuseb, ook ‘n tuinier wat probeer om kop bo water te hou en wat een van die seuns van die omgewing is wat baie hard probeer om die lot van sy mense te verbeter, het Noorderlig meegedeel dat dit baie geld en werk gaan kos om die tuinbedryf tot normaal te herstel.

“Naas die pype wat stukkend is, is die tuine nou vol onkruid. “Voorts het die vrugbaarheid van die grond baie gedaal omdat baie vrugbare grond intussen weggespoel het,” het hy gesê. Mnr. Holtzhausen het ondanks die netelige posisie waarin die tuinery verkeer, daarin geslaag om saam met mnr. Ganuseb ’n paar hektaar mielies te plant.

“Naas die baie mielies wat ons by Warmquelle geplant het, behaal ons ook sukses in die verbouing van ander gewasse waaronder tamaties. “Omdat dit die eerste jaar is, eksperimenteer ons eers met die saai van verskeie gewasse. “Op die oomblik het ek al 12 mense in diens wat in die tuine werk en ek is van plan om verder uit te brei sodra ek vertroud raak met die klimaattoestande in die omgewing.

“Ek het ‘n kontrak met die Regering aangegaan om die tuine vir sewe jaar te bewerk en groente en vrugte te kweek. “In daardie sewe jaar wil ek die plaaslike gemeenskappe goed oplei om dit daarna oor te neem en tuinbou te beoefen. “Daarmee kan hulle vir hulself kos voorsien en die produkte ook verkoop vir ‘n inkomste,” het mnr. Holtzhausen gesê.