24.06.2008 Paresis Expo ’n fees
Die Paresis Expo, ‘n gemeenskapsorganisasie met die doel om die voormalige Otjiwarongo-skou tot nuwe hoogtes te voer, vind vanjaar tussen 10 en 13 September plaas. Volgens die voorsitter van die nuwe komitee, mnr. Ismael Howoseb, sal die komitee in samewerking met die munisipaliteit werk om vanjaar se expo ‘n groot sukses te maak.
Besoekers by die Paresis Expo kan uitsien na ‘n fantastiese vermaaklikheidsprogram, wat onder meer ‘n pretpark, narre, verskeidenheidsvertonings, hondeskou, perde, dansers, sangers, en vuur- en kragvertonings insluit. Terwyl Sunny Boy en ander kunstenaars in die biertent die poppe sal laat dans, sal in die Duitse biertent ‘n “Oktoberfest”-atmosfeer heers. Die boeretent sal ook deur die hele skoutyd verversings en etes aanbied.
Die gala-dinee is die formele aand om na uit te sien, begelei deur die musiek van Trio Feminale. Volgens die komitee sal in die lewendehawe-afdeling ‘n slagos- en kleinveekompetisie asook ‘n rastentoonstelling (beeste) aangebied word, met ‘n verskeidenheid toesprake oor verskillende onderwerpe soos tuinmaak en vleisverwerking. Daar word voorsiening gemaak vir ‘n vermaaklikheidsaal (Kid’s Paradise) waar kinders onder toesig kan baljaar, terwyl die ouers aan ander aktiwiteite deelneem.
Voorts sal die nywerheidsektor vanjaar interessante tentoonstellings aanbied, terwyl aan lekkergoed in “Sweet Street” geen tekort sal wees nie. Die uitstallers in die sale gaan weer hul nuutste produkte aanbied en vir die rustiges is daar ‘n kafee met koffie en koek. “Ons beoog om ‘n rekord aantal stalletjies te kry deur die stalletjies teen billike pryse te verhuur. Kontak gerus die komiteelede vir meer inligting.
Die beste uitstallers word met sertifikate en pryse beloon,” sê mnr. Howoseb. Die ingangskaartjies sal hierdie jaar ook die moontlikheid bied om daagliks aantreklike pryse te wen, wat elke aand van die Expo bekend gemaak sal word. ‘n Inligtingsbrosjure is by die Otjiwarongo munisipaliteit, Decor Signs, Marina Toyota en Agra beskikbaar.
Navrae kan gerig word aan: Theo & Ruth Brockmann van Decor Signs (Binnestalletjies) 067 302 821; Loutjie Grobler van Agra (Lewendehawe) 067 303 101; Deon Swart van Marina Toyota (Buite-stalletjies) 067 303 867; Ismael Howoseb van die Munisipaliteit (Voorsitter) 067 302 231.
|