22.07.2008 Outjo werk vir sy inwoners
OUTJO se begroting van N$16,8 miljoen in die 2007/2008 boekjaar is daarop ingestel om die dorp se aansien positief te verander en terselfdertyd ’n verbetering in inwoners se lewensom- standighede te- weeg te bring. Die totale begroting bestaan uit ’n bedryfsbegroting wat N$15,2 miljoen beloop en die kapitale begroting van N$1,6 miljoen.
Mnr. Josef Abel /Urib, die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit het ’n tekort aan gedienste woon- en sakeerwe op die dorp as ’n kopseer uitgewys toe hy met Noorderlig gepraat het. “Ons wil vanjaar woon- en sakeerwe diens. Vir die woonerwe het ons die stuk oop grond geïdentifiseer wat opgemeet gaan word in meer as 100 erwe. “Wat die sake-erwe betref, is ons steeds besig om na geskikte gebiede te soek om te identifiseer,” het mnr. /Urib gesê.
’n Baie belowende projek wat vir die dorp se munisipaliteit finansiële onafhanklikheid op die langtermyn kan beteken, is dat hy 60 persiele op die pad na Kamanjab opgemeet het. Die persiele wat tydens ’n openbare veiling verkoop gaan word, se grootte wissel tussen 5 en 19 hektaar. Die dorpsraad is tans besig om daardie persiele te bemark terwyl hy terselfdertyd ook met navorsing besig is om ’n insetprys daarvoor te bepaal sodat hy nie verliese ly nie.
Vennote uit Nederland met wie die dorp se munisipaliteit ’n tweelingdorpooreenkoms het, het ’n ambulans aan die dorpsraad van Outjo geskenk. Die skenkers is die munisipaliteit van Maarssden in Holland. Hierdie ambulans gaan binne die volgende paar dae verskeep word en behoort in die derde week in Augustus in Namibië aan te kom.
“Die dorpsraad gaan met die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste ’n vergadering hou sodra die ambulans hier is. “Die vergadering is om te praat oor hoe ons die ambulans gaan benut, terwyl ons van mening is dat dit tot die voordeel van die dorp se inwoners gebruik gaan word,” het hy gesê.
Verdere goeie nuus vir die munisipale amptenare van Outjo is dat die dorpsraad in sy begroting voorsiening gemaak het vir 10 persent verhoging deur die bank. Dit is gedoen nadat die munisipaliteit en Napwu vroeër suksesvolle samesprekinge gevoer het.
|