Noorderlig


Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

24.08.2010

Outjo slyp vir eie toerismeskou

© Theo Gurirab
Van links is mnr. Christiaan Hendrik Theart (dorpraadslid), Junius Kandjeke (Ouditeur-generaal), Joseph Abel /Urib (stadsklerk van Outjo) en die burgemeester, mnr. Isaias Katambo.

ALLE ratte is geolie vir Outjo om sy eerste toerismeskou volgende jaar onder die tema “Outjo die Toeristebestemming” aan te bied. Samesprekings is reeds op hoë vlak gevoer en die jawoord is onder meer van die Ministerie van Handel en Nywerheid, asook ander rolspelers verkry om die sukses van so ’n skou te verseker.

Die doel van die skou is volgens die dorpsraad om toerisme in die ganse Kunene-streek te bevorder, asook om die dorp se ekonomie ’n hupstoot te gee. Die dorpsvaders onderneem om die toerismeskou in die hartjie van die dorp aan te bied nadat die oop spasie tussen First National Bank en die poskantoor vir die doel opgegradeer word.

Mnr. Olé !Aibeb, verantwoordelik vir menslike hulpbronne asook die ekonomiese ontwikkeling op die dorp, het Noorderlig meegedeel dat die dorpsraad reeds kontakte opgebou het met mense wat tegniese kennis oor so ’n bedryf het, om deeglike beplanning te verseker.

Volgens hom het die dorpsraad reeds met die Ministerie van die Omgewing en Toerisme, Namibia Wildlife Resorts (NWR), Tsumeb munisipaliteit, die Ongwediva dorpsraad en organiseerders onderhandel om bystand te verleen.

Sodra samesprekings binnekort met die Beleggingsentrum onder die vaandel van die Ministerie van Handel en Nywerheid gevoer is, sal op ’n datum besluit word waarop die skou aangebied gaan word. In verdere verwikkelinge het die dorp vandeesmaand ’n dubbele slag geslaan toe die munisipaliteit besoek van die Adjunkminister van Handel en Nywerheid, mnr. Tjekero Tweya, en die Ouditeur- generaal, mnr. Junius Kandjeke, ontvang het.

Vir die dorp wat die afgelope twee jaar onder kritiek gebuk gegaan het weens ’n ondersoek na beweerde wanadministrasie wat daartoe gelei het dat die dorp se munisipaliteit afgebrand is, was die besoek van die hoës ’n salf op die wond.

Samesprekings het in goeie gees afgeloop en die dorpsraad is geloof vir sy visie wat daarop gemik is om die dorp en sy inwoners se standaarde op ’n positiewe wyse te verhoog.

Mnr. Tweya se besoek word gekoppel aan ’n nuwerwetse toeristesentrum wat binne ’n afsienbare tyd daar gaan verrys, terwyl mnr. Kandjeke se besoek daarop gemik was om hom te vergewis van die vordering van die herbouing van die munisipaliteit wat in Augustus verlede jaar afgebrand is. Hy het sy tevredenheid uitgespreek met wat die munisipaliteit tot dusver kon vermag.