
Wyle Royal Otto se skoondogter Jurita is ’n bekende kunstenaar in Grootfontein en het hierdie skildery van haar ouers gemaak.
WYLE oom Royal Otto is in 2008 reeds op Grootfontein begrawe, maar hy sal deur sy familie nooit vergeet word nie. Hiervoor het die vroue in sy lewe gesorg.
Sy kleindogter Drey-Andra Otto van Tsumeb Gimnasium het gewys dat sy nie net ’n suksesvolle skoonheid en model is wat op die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste uitgeblink het nie, maar ’n meisie met hegte gesinsbande vir wie haar oupa haar rolmodel is.
Drey-Andra het reeds in graad 7 ’n baie kunstige collage oor die lewe van haar oupa Royal Otto aanmekaar gesit. Vandag hang dit in haar ouma se huis naby Grootfontein.
Sy beskryf haar oupa as haar rolmodel, omdat “hy ten spyte van armoede en terugslae in sy kinderjare uitgestyg en ’n sukses van sy lewe en sy gesin gemaak het. Min mense het hom nie geken en vir hom lief geword nie,” vertel die mooi dogter wat ooglopend trots op haar oupa is.
Oupa Royal se vrou tannie Nelie het ná sy dood ’n kwilt gemaak om haar hartseer te verwerk. Stukkies van sy gunstelinghemde (talle van hulle oranje, wat die vlam van lewe simboliseer), ’n prentjie van die sonsopkoms en skilpaddoppies is deel van die kunswerk.
Oupa Royal se mansjetknopies, sy posbussleutel en ’n metaalplaatjie van ’n Wolseley-enjin kompleet met enjinnommer en stukkies van sy das is kunstig verwerk tot deel van die pragtige muurbehangsel. So het ouma Nelie deur haar hartseer en geworstel, kalmte gevind in ’n kunswerk wat ’n erfstuk geword het en wat haar man Royal Otto se naam vir altyd in die familie sal laat voortleef.
Dan is daar die bekende kunstenares Jurita, wat veral vir haar kunstige werke op leer en vel bekend is. Jurita se skildery van haar ouers is stil en statig in die hoek van die woonkamer uitgestal, kompleet met koperpotjies en ander versierings omring.
Dis duidelik dat niemand wat vir Royal Otto geken het, die man met sy geweer, hoed en kruisbande sal vergeet nie. Maar wie was hierdie merkwaardige man? As kleinkind van ’n mediese dokter het hy uit die Oos-Kaap na Okahandja gekom en op die plaas Labasrus grootgeword en is later ook daar getroud.
Die Otjisondo mangaanmyn is later daar geopen. Familie en vriende onthou hom as ’n man wat Afrikaans, Engels, Duits en Italiaans kon praat. Mense was lief vir hom en het hom gerespekteer. Genl. Jan Smuts was sy rolmodel en soos meeste mans was hy lief vir cowboyflieks.
Sy kleindogter beskryf sy stokperdjies as bobbejane, boer en boor. Hoewel hy ook ’n redelik private mens was, was hy baie lief vir kinders en mense.
’n Minister het eendag opgemerk dat Royal Otto die enigste wit Kavango is wat hy ken, omdat hy so goed met die mense oor die weg gekom het. Dis beslis nie net die Otto-familie wat hom nog lank sal onthou nie. Hierdie man het diep, mooi spore getrap.