
Die sandfiltertenk word gebruik om water skoon te maak.
’n PROJEK om water te herwin, is by die Altersheim-ouetehuis op Otjiwarongo teen ’n koste van meer as N$100 000 begin. Die Rotariërs, in samewerking met Aqua Services, het bystand gelewer om die waterherwinningstelsel by die ouetehuis gereed te kry.
Alle stort-, bad- en kombuiswater (alles behalwe rou riool) loop nou in ’n aparte gryswaterstelsel na ’n opgaartenk van sowat 50 kubieke meter. Van hier word die water na ’n sandfilter gevoer waar dit skoongemaak word. Indien enige oorvloei in die opgaartenk ondervind word, loop dit in die dorp se rioolstelsel in. Vanaf die opgaartenk word water verder na ’n watertenk gevoer.
Die tenk kan sowat 10 000 liter water hou. Die ouetehuis gebruik die herwinbare water vir besproeiingsdoeleindes in die tuin en kan sowat twee dae aan die 10 000 liter water gebruik. Volgens die bestuurder van die ouetehuis, mnr. Stephan Osbahr, word die water vanaf die tenk na die tuin se krane geneem.
Alle krane in die tuin is volgens varswater of herwinbaar gemerk. Mnr. Osbahr sê alle watervore by die ouetehuis word ook verander en opgedeel sodat die gryswater nie meer saam met die rioolstelsel van die dorp loop nie. “Daar is geen verbinding tussen vars- en gryswater nie,” het mnr. Osbahr gesê.
Voorts word reënwater opgevang om water optimaal te benut. Rotariërklubs in die buiteland het sowat N$80 000 gegee om die die herwinningstelsel ’n werklikheid te maak, terwyl Aqua Services onder meer gehelp het met die installasie van die stelsel.