22.07.2008

Otjiwarongo vat vas op rugbyveld

© Andrew Poolman
Die rugbyspan van Otjiwarongo.
’n MENS kan beswaarlik anders as om jou hoed af te haal vir die vasberadenheid van die individue wat sport op die platteland aan die gang hou. Otjiwarongo se rugbyklub is ‘n goeie voorbeeld. Die span was kortstondig boaan die punteleer van die Eersteliga se noordelike groep, en is steeds sterk in die wedloop in die tweede plek.

“Aan die begin van die jaar het ‘n handjievol spelers hulself gemotiveer om vanjaar weer nuwe asem in die rugby te blaas. ‘n Besluit is geneem dat ons in die eersteliga sal inskryf en weer begin rugby speel. Tot dusver vaar ons uitstekend en is nou in die helfte van ons seisoen,” vertel die klub se voorsitter, mnr. Deon van Blommestein.

Die klub se spelers was nie te selfbelangrik om die moue op te rol en pannekoek te bak om geld vir die klub in te samel nie. Hoe uniek is dit in dié era van gekommersialiseerde sport? ‘n Paar borge het wel intussen toegetree om die las ligter te maak. Honigberg Haymakers is die span se truie-borg en die broeke is deur Namaqua North betaal. Ander borge was mnre. Deon van Blommestein, Francois du Plessis, Jaco Erasmus en Fanie Badenhorst, asook Bank Windhoek en Janko Velle.
© Andrew Poolman
Otjiwarongo het die naweek met 40-32 teen Windhoek-rugbyklub verloor, maar het ook teruggeveg en 'n bonuspunt met vyf drieë ingepalm.
“Ons plan vir die jaar is om die eindstryd te haal en dit definitief te wen, sodat Otjiwarongo weer die sterk span kan wees soos ‘n paar jaar gelede. Ons toekomsplanne is om dié groep jong spelers bymekaar te hou en volgende jaar voort te bou op wat ons hierdie jaar bereik het,” sê mnr. Van Blommestein. Die klub het ook besluit om vanjaar ‘n rugbydans te hou.

Die datum is 24 Oktober en daar word gewerk om dit ‘n reuse-sukses te maak. Otjiwarongo bevind hom steeds in die tweede plek op die punteleer nadat hy Saterdag vir ‘n tweede keer teen Windhoek-rugbyklub verloor het – dié keer in Windhoek op die Academia-veld. Windhoek het met 40-32 gewen, maar die verloorspan het deurgaans teruggeveg om ook die bonuspunt vir minstens vier drieë in te palm.

Otjiwarongo se driedrukkers was sy stutte Morné Oosthuizen (2) en Francois Stoffberg, flank Dawie du Buisson asook Johan de Vos, wat in die tweede helfte as binnesenter opgekom het. Die skoppunte is deur regtervleuel Byron Goeieman bygevoeg. Die Noorde-span het karakter wys nadat siekte, werkverpligtinge en ander redes hulle verhinder het om deurgaans hul sterkste span op die veld te hê en beserings en ‘n geel kaart hulle boonop getref het.

Die span se volgende wedstryd is oor twee weke teen Swakopmund, ‘n wegwedstryd. “Ons het nog ses wedstryde oor vir die seisoen, so daar is nog heelwat rugby oor. Otjiwarongo- rugbyklub is gemotiveerd om rugby lewendig te hou op die platteland en die sport te speel waarvoor ons lief is,” sê mnr. Van Blommestein.