22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.02.2010

Opvolgreën nodig

MET normale tot bo normale reënval wat tydens die afgelope reënseisoen in die Mieliedriehoek voorgekom het, is opvolgreën nou vir boere van die uiterste belang.

Mnr. Francois Venter van Angrow Agronomy op Grootfontein, sê dit is nou ’n baie kritieke stadium vir mielieboere.

Indien goeie reën nie binne die volgende twee maande val nie, sal mielies swak bestuif word en dit sal die opbrengs beïnvloed. Te láát reën kan weer diplodia in mielies veroorsaak. Intussen is vroeë aanplantings as gevolg van onsekere weersomstandighede in ’n kritieke stadium.

Jonger mielies baat weer by geen reën en dit gee die mielies kans sodat wortels vog kan soek en ’n beter staanvermoë sal hê. Boere hoop egter op goeie reën vanaf middel Februarie tot Maart sodat goeie pitbesetting en goeie opbrengste kan plaasvind, sê mnr. Venter.

Aan die ander kant het goeie reën ook sy nadeel gehad en die beheer van onkruid was ’n probleem aangesien die reën onkruiddoders van die mielies afgewas het en nuwe soorte onkruid weer gegroei het.

Voorts sê mnr. Venter het boere ook probleme ondervind as gevolg van die teenwoordigheid van baie vog en hoë temperature wat geheers het.

Breë blaargewasse het redelik baie blaarsiektes opgedoen terwyl stamboorders op mielies voorgekom het. Sowat 8 300 hektaar mielies is die seisoen aangeplant, die ooste ingesluit.

Die sluit egter nie die verre noorde in nie. Mielies is teen einde November aangeplant en stroping daarvan begin gewoonlik tydens April. Dit hang egter van die hitte en die mielie-kultivar af wanneer dit geoes sal word.