22.07.2008

Noorde staan op ná vloed

© Jan Poolman
Verskeie projekte is in die Noorde aan die gang om die infrastruktuur wat deur die onlangse vloed beskadig is te herstel. Tussen Ogongo en Outapi in die Omusati-streek is NamWater besig om die waterkanaal te herstel wat weens die vloed beskadig is.
’n AFVAARDIGING van die Verenigde Nasies (VN), die Rooikruisvereniging en die Kantoor van die Eerste Minister kom vandag in die Noorde aan om ’n ter plaatse ondersoek te doen oor die skade wat die afgelope vloed aan die gebiede gebring het.

Die kwessie is ook vroeër vandeesmaand op Tsumeb tydens ’n slypskool in oënskou geneem wat deur die goewerneurs van die Oshana, Caprivi, Kavango, Oshikoto, Omusati en Ohangwenastreek bygewoon is en deur die Noodeenheid in die Kantoor van die Eerste Minister gereël was.

Die nasionale koördineerder van die vloedondersoekbestuur, mnr. Erastus Negonga, het ook die vergadering bygewoon. Die adjunkdirekteur van beplanning en ontwikkeling van die Oshana-streekraad, me. Ndilimeke Mavulu, wat aan die spits van die vloedkomitee in die streek gestaan het, sê rehabilitasiewerk aan beskadigde infrastruktuur weens die vloed word reeds gedoen.

Sy sê elke instelling, soos Telecom waar telefoonlyne beskadig was, NamWater wat vir die waterkanaal verantwoordelik is, en die Padowerheid, wat die paaie herstel, is besig met opknappingswerk. “Op die Tsumeb-vergadering het ons ’n voorraadopname gemaak van vloedskade en aanbevelinge is gemaak oor watter stappe deur die Regering gedoen moet word,” het me. Mavulu aan Noordelig gesê.

Die VN-, Rooikruis en EMUafvaardiging kom vandag op Oshakati aan waar hulle eers die streeknoodeenheid (Remu) van die Oshana-streek sal ontmoet voordat hulle die gebied inbeweeg om hulself van die vloedskade te vergewis. Donderdag sal die afvaardiging die Omusati-streek besoek, terwyl die Ohangwena-streek die 29ste aan die beurt kom.

“Die afvaardiging sal vir tien dae in die drie streke wees en hulle hoop om dan ’n omvattende nasionale vroeë herwinningsraamwerk te kan opstel wat tydens en na vloede geïmplementeer kan word. Die VN-afvaardiging sal uit verteenwoordigers van die Wêreldvoedselprogram (WFP) en die VN se Kinderfonds (Unicef) bestaan,” het me. Mavulu gesê.