
Die Lisikili-kliniek, ’n paar kilometer buite Katima Mulilo.
GOEIE gesondheidsorg in die Caprivi-streek word grootliks belemmer met kliniekdienste wat nie vir alle inwoners geredelik beskikbaar is nie. In die reënseisoen is klinieke grootliks buite bereik, alle klinieke beskik nie oor behoorlike kommunikasiekanale nie en boonop laat die voorkoms van MIV en vigs die owerhede ook nog kopkrap.
Die streekdirekteur van gesondheid in die streek, mnr. Michael Likando, sê kommunikasie en toeganklikheid van klinieke is beslis twee van die grootste probleme wat gesondheidsorg in die streek bemoeilik. “Wanneer die vloede kom, word klinieke afgesny.” In sommige gevalle kan klinieke nie langs paaie wat oorstroom word bereik word en dan is riviere die enigste uitweg om klinieke te bereik.
Kommunikasie is ’n ander probleem wat in die gesondheidsektor van die streek groot kommer veroorsaak. Volgens mnr. Likando beskik sommige klinieke nie eens oor ’n telefoon nie en dit neem dus vir ’n ambulans soveel langer om na klinieke gestuur word wanneer dit benodig word. Sowat 25 klinieke is beskikbaar vir gesondheidsorg in die streek. Mnr. Likando het ook sy kommer oor die voorkoms van MIV en vigs uitgespreek, maar gesê dat die gesindheid van inwoners teenoor mense met MIV en vigs verander het.
’n Opname wat in 2006 oor vigs in die streek uitgevoer is, toon dat 39,4% vroue wat in die tydperk swanger was, MIVpostief was of aan vigs gely het. Mnr. Likando sê sy departement het onlangs ’n werkswinkel met sommige van die inwoners in die streek aangebied om hul gesindheid teenoor MIV en vigs te verander. “Met die opleiding was 80% van die mense reeds ingelig oor MIV en vigs, maar daar was nie ’n verandering in hul gesindheid teenoor die siekte nie.”
Daar het wel oor die afgelope jaar ’n ommekeer by sommige mense ingetree, meen mnr. Likando. “In die begin het die gemeenskap ontken dat die siekte bestaan, maar nou is daar ’n verandering. Sedert 2003 het ons begin met antiretrovirale behandeling en mense begin ook nou hospitale besoek vir behandeling, waar hulle voorheen vas geglo het aan toordokters om hul gesond te maak.”