23.02.2010 NCCI kies nuwe bestuur
 Die nuwe uitvoerende komitee van die Kamer van Handel van Nywerheid (NCCI) van Tsumeb is onlangs op hul algemene jaarvergadering verkies. Voor v.l.n.r. is Fritz Nitschke (voorsitter), Frishia Ambata (ondervoorsitter) en Johannes Amutenya (tesourier). Agter v.l.n.r. is Tshatiwa Elago (komiteelid), Priska Kahuku (takadministrateur), komiteelede Maria Johannes en Hentie Kruger, streeksraadslid Lebeus Tobias en die hoof uitvoerende beampte van die NCCI, Tara Shaanika. Komiteelid Klaus Deite was afwesig.
WERKLOOSHEID moet as ’n ernstige krisis hanteer word, het die hoof uitvoerende beampte van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI), mnr. Tara Shaanika, tydens die algemene jaarvergadering van die Tsumeb-tak gesê. “Dit is teleurstellend om te sien hoe werkloosheidsyfers (tans 50%) groei, maar ons tree nie op soos ons moet tydens ’n kritieke situasie of krisis nie.”
Hy doen ’n beroep op die Regering om ’n begroting opsy te sit spesifiek vir werkskepping en om projekte te identifiseer wat ’n massiewe aantal werkgeleenthede kan skep. “Ons praat net oor werkloosheid en is geskok oor die werkloosheidsyfer, maar ons gaan nie oor tot aksie om die probleem ernstig te benader nie.”
Mnr. Shaanika meen ook dat ’n oorversigtige benadering tot werkskepping bestaan en dat ’n speletjie van blaam gespeel word in plaas daarvan dat werkloosheid met durf en daad gekonfronteer word. “Die situasie waar die private sektor die Regering beskuldig vir ’n gebrek aan ekonomiese groei en die openbare sektor die private sektor beskuldig vir ’n gebrek aan werkskepping, moet verander word na ’n situasie waar merkbare en samewerkende pogings tot werkskepping voorkom.”
Volgens hom bestaan ’n gebrek aan ernstige uitslag-georiënteerde openbare/private sektor dialoog wat ’n duidelike padkaart vir volhoubare ekonomiese ontwikkeling, verandering en werkskepping kan uitstippel. Hoëvlak openbare/private sektor dialoog is dus 13die NCCI se hoofprioriteit vanjaar.
Volgens mnr. Shaanikably die behoefte aan beter organisasie van die private sektor ’n uitdaging vir Tsumeb se private sektor en sy sleutelrolspelers. Volgens die bestuurder van Namibia Custom Smelters, mnr. Dawid Bisschoff, is die NCS-oorname van die Kanadese mynmaatskappy, Dundee Precious Metals, goeie nuus vir die gemeenskap van Tsumeb, “want hulle is bereid om in NCS te belê en sodoende werkgeleenthede vir baie jare te verseker.”
Hy verwys na die Chelopech- myn in Bulgarye wat onder beheer van Dundee is en aan wie NCS reeds vir die afgelope drie jaar konsentrate verskaf. Die myn het ’n leeftyd van ten minste tien jaar. Volgens mnr. Bisschoff het Dundee spesifieke doelwitte, veral ten opsigte van sy betrokkenheid by die gemeenskap en die omgewing. Streekraadslid Lebeus Tobias van die Tsumeb- kiesafdeling het namens die goewerneur van die Oshikoto- streek, mnr. Penda Ya Ndakolo, gesê dat dit jammer is dat die NCCI se Tsumeb-tak verswak het.
“Ons het ’n florerende private sektor nodig wat in hul bydrae tot ontwikkelingsdoelwitte verenig is.” Hy sê die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling is ten volle verbind tot en ondersteun sake-ontwikkeling in Namibië as ’n geheel deur middel van plaaslike ekonomiese ontwikkeling (LED).
Oor werkskepping het hy gesê dat dit allereers geskep word deur bestaande besighede te verbeter. “Dit behels die skep van ’n sterk sake-omgewing, deelnemende owerhede en ’n bevorderlike regulerende omgewing. Maar dit is nie slegs die openbare sektor wat dié omgewing moet vorm nie. Sakeondernemings moet hul mededingendheid bevorder deur geleenthede te identifiseer en regverdige arbeidsverhoudinge en kliëntediens te verbeter,” luidens mnr. Ya Ndakolo.
“Die doel is om ‘slim vennootskappe’ te skep waar die private en openbare sektor saam met vakbonde vennote word.” Hy het ook klem gelê op die belangrikheid van klein en medium ondernemings (SMEs).
Die nuwe uitvoerende komitee is tydens die algemene jaarvergadering verkies. Hulle is Fritz Nitschke (voorsitter), Frishia Ambata (ondervoorsitter) en Johannes Amutenya (tesourier). Ander komiteelde is Tshatiwa Elago, Klaus Deite, Maria Johannes en Hentie Kruger. Die NCCI Tsumeb-tak is agt jaar gelede gestig.
|