Warning: getimagesize(/var2/www/html/newspaper/images/plek1-3.jpg) [function.getimagesize]: failed to open stream: No such file or directory in /var/www/html/newspaper/typo3conf/ext/sbcontentelements/pi2/class.tx_sbcontentelements_pi2.php on line 202
Namibië is dié plek, sê Ryan

Noorderlig


Kontak Ons

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

25.08.2009

Namibië is dié plek, sê Ryan

© Ron Klataske
Die asemrowende wuiwende vlaktes van die Noord-Amerikaanse Laagvlaktes (“Great Plains”) van Kansas waar Ryan Klataske vandaan kom.

AMERIKANER Ryan Thomas Klataske kon as Rotariër ambassadeur- student enige land in die wêreld kies waar hy sy nagraadse studies kon doen, maar hy het Namibië gekies. Namibië hoef vir geen ander land terug te staan nie. “Namibië is ’n leier in natuurbewaring en het baie om vir ander lande te leer,” sê Ryan, wat Otjiwarongo as sy basis in Namibië gekies het.

Hy gaan sowat 15 maande in Namibië bly om navorsing vir sy doktorsgraad in sosio-kulturele antropologie deur die Staatsuniversiteit van Michigan te doen. “Boere in Namibië doen innoverende dinge en kan hul ondervinding met die wêreld deel.” Hoekom het hy Otjiwarongo van alle plekke gekies? “Otjiwarongo is ’n klein dorpie en ek is versot op klein dorpies. Ek wou ook iewers vreemd en interessant gaan.”

Ryan se tuisdorp, Manhattan, Kansas in sentraal Noord-Amerika, is ook ’n klein dorpie met ’n groot boeregemeenskap, veral beesboere. Manhattan het sowat 52 000 inwoners. “Dit is verbasend om te sien hoe klein dorpies in verskillende lande ooreenkom.”

Hy sê die boere van die Noord- Amerikaanse Laagvlaktes (“Great Plains”) van Kansas kan baie van Namibiese boere leer. “My doel is om eendag terug te gaan na Kansas en alles wat ek hier geleer het, daar toe te pas.” Plase in Kansas is sowat 600 hektaar groot en daar is ook wild soos Amerikaanse buffels, takbokke, elke en prêriehonde. Ryan is ’n kranige jagter van takbokke, wilde kalkoene en fisante.
© Dieter Noelle
Ryan tydens ’n besoek aan Hoërskool Otjiwarongo.

Dit is sy tweede besoek aan Namibië. Verlede jaar het hy vyf weke hier bestee en was verbaas om Himbas in tradisionele drag met selfone te sien. “Ek was nog altyd baie geïnteresseerd in Afrika en my professor, Bob Hitchcock, wat saam met die San-bevolking in Botswana gebly het, het my ook gemotiveer om Afrika toe te kom.”

Ryan se navorsing fokus op die interaksie tussen mens en omgewing en die sosiale dinamika van private bewaringsgebiede, veral die sosiale en kulturele aspekte van natuurbewaring. “Ek sal baie graag private natuurbewaringsgebiede wil besoek, asook op plase in Namibië gaan woon en werk om meer te leer,” sê hy.

Tans bly hy in ’n kamer in die Duitse Schülerheim en hy het vir hom ’n tweedehandse bakkie aangeskaf. Met sy aankoms op Otjiwarongo het hy sommer met die intrapslag dadelik welkom gevoel by die Otjiwarongo Karnaval. Meer as die helfte van Kansas se inwoners is van Duitse afkoms.

As ’n Rotariër ambassadeurstudent wil Ryan graag betrokke wees by liefdadigheidsprojekte en sy dienste aanbied, asook praatjies aanbied. Toe Republikein hom op Otjiwarongo ontmoet het, het hy pas teruggekeer van ’n ontmoeting met leerlinge van die Hoërskool Otjiwarongo.

Hy is twee jaar gelede getroud met Rachel wat oor ’n paar maande vir hom in Namibië gaan kom kuier. En hy is lief vir vleis. Ryan is baie opgewonde om in Namibië te wees en van die Namibiërs te leer – oor ons perspektiewe, sieninge en leefstyl. Dit is vir hom lekker as die mense van Otjiwarongo hom op straat herken en groet.

“Ek is nie nog ’n alwetende buitelandse akademiese navorser wat na Afrika gekom het om te kritiseer en fout te vind nie en net op die probleme en uitdagings te fokus nie. Ek stel belang in die positiewe en suksesstories en ek is hier met oop oë en ore, en veral ’n oop gemoed.” Kontak Ryan by 081 454 7195 of e-pos ryanklataske@ hotmail.com.