
Mnr. Jonas Oxurub, adjunkhoof uitvoerende beampte van die Groot¬fontein munisipaliteit.
MUNISIPALE tariewe op Grootfontein styg gemiddeld met 10 persent met ingang van 1 Julie vanjaar. Dit sluit onder meer eiendoms-en hondebelasting, riool, sanitasie en water in. Bouplantariewe sal egter met 15 persent styg. Om die behuisingstekort op die dorp te verlig, is tenders aangevra om 57 erwe tussen Luiperdsheuwel en die huise van Waterwese te diens.
Die toekenning daarvan sal eersdaags gedoen word. Die munisipaliteit wag ook nog vir die registrasie van tien erwe op die hoek van Moltke- en Hartmanstraat wat deur ’n landmeter opgemeet is. Die begroting van 1 Julie maak ook voorsiening vir die bou van huise vir die mense wat die enkelkwatiere moet ontruim.
Die uitgawes is deur die Ministerie van Streek-en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling goedgekeur en geld is reeds beskikbaar gestel vir 62 huise om van die mense te huisves. Mnr. Jonas Oxurub, adjunk hoof uitvoerende beampte van die Grootfontein munisipaliteit, sê dat lenings vir die bou van 38 huise in die saambouprojek aan geïdentifiseerde inwoners toegeken is.
Die lenings moet maandeliks terugbetaal word en dié geld word weer gebruik om lenings aan ander toe te ken. Volgens hom word ook baie aandag geskenk aan die skoonmaak van die dorp en ‘n tender is uitgereik vir die lewering van ’n laaigraaf wat vir die skoonmaakveldtog gebruik sal word. “Teen die einde van die maand gaan lede van die weermagbasis op Grootfontein help met die skoonmaak van die dorp. Die munisipaliteit gaan ook die gemeenskap vra om daarmee te help,” het mnr. Oxurub gesê.