24.08.2010 Meer as vleis by Metzgerei
OP 1 September vier Gellert Metzgerei in Otjiwarongo sy eerste herdenking vandat dit begin sake doen het. Met 35 jaar ondervinding in die vleisbedryf, bestuur mnr. Wolfgang Gellert sy slaghuis só dat die hele gemeenskap sover moontlik voordeel trek.
Alle produkte wat in die slaghuis gebruik word, word uit die omgewing aangekoop. Ongeveer ses ton polonie word per maand vervaardig en vorm deel van die 900 verskillende produkte wat te koop is.
Behalwe vir die vleisprodukte bied Wolfgang ook ’n verskeidenheid tuisgemaakte produkte soos kaas, room, olyfolie, konfyt, marmelade en sappe wat alles uit die gemeenskap aangekoop word.
Mnr. Gellert is tans besig om aan ’n kombuisafdeling te werk waaruit daaglikse warm middagetes bedien sal word. Sy toekomsplanne sluit ’n klein Bistro in waar reisigers langs die hoofpad van sy heerlike kos kan bestel. In wintermaande het die publiek al tot 40 liter sop op een dag aangevra.
Die ghoelasj- en groentesop het soveel aftrek gekry dat mnr. Gellert steeds oproepe ontvang van mense wat die resep verlang. Nadat hulle vroeër jare in Walvisbaai gebly het, is die Gellerts oortuig dat die skuif na Otjiwarongo hul beste ooit was.
|