22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

22.02.2010

Luukse oord vir Tsumeb



BINNEKORT sal die multimiljoendollar Kupferquelle-oord se hekke vir besoekers open. Die Kupferquelle-oord, wat voorheen as die Tsumeb Karavaanpark bekend was, is strategies op die TransKalahari weg na die Noorde geleë.

Die bouprojek is een van die grootste beleggingsinisiatiewe op die dorp met talle plaaslike werkgeleenthede wat hierdeur geskep is, terwyl dit terselfdertyd die plaaslike toerisme- en gasvryheidsbedryf ’n hupstoot sal gee.

’n Plaaslike sakeman, mnr. Schalk Henning van die firma Henning Crusher (Edms) Beperk, het deur ’n huurooreenkoms van 50 jaar met die Tsumeb munisipaliteit onderneem om die ou karavaanpark te ontwikkel in wat dit vandag is.

Die nuwe luukse oord met sy Dros restaurant en kroeg, die enigste in Namibië, winkel met bakkery en slaghuis, internetkafee en OTM-fasiliteit, verskaf alles wat enige toeris kan benodig, reg op die perseel. Die Olimpiese standaard 50 meter swembad sal pret en lafenis vir almal verskaf.

Vir die kinders is ’n nuwe klimraam en speelgeriewe en vir die tieners videospeletjie fasiliteite opgerig. Volgens die bestuurder, mnr. Kierie Bruwer, sal ’n groot leemte op Tsumeb gevul word en sal die dorp nou meer jongmensvriendelik wees. Die oord beskik ook oor twee konferensiesale wat met die nuutste kommunikasietegnologie toegerus is.

Die luukse fasiliteite met die pragtige omringende tuine sal beslis gewild wees vir groot onthaalgeleenthede. Die opgradering van kampeerfasiliteite vir tente en karavane het ook nie agtergebly in die ontwikkeling nie en kombuise en ’n selfhelpwassery wat met munte werk, sal vir elke kampeerder die lewe gemakliker maak. Dagbesoekers kan ook by tien staanplekke die park se geriewe geniet wat beslis aanklank by inwoners van Tsumeb sal vind.

’n Vlugbalbaan sal ook binnekort by die oord opgerig word. Tussen die pragtige gevestigde bome is 15 luukse selfsorgeenhede teen die koppie opgerig met uitsigte oor die dorp en die berge. Die chalets, bestaande uit ’n oopplan sit-/eetkamer en kombuis, beskik elk oor ’n eie balkon met braaigeriewe.

Die kombuis is toegerus met elke nodige item om vir die familie ’n gerieflike verblyf te verseker. Twee slaapkamers by elke sit-/eetkamereenheid is elk toegerus met twee dubbelbeddens per kamer en sy eie badkamer.

Elke slaapkamer beskik oor sy eie balkon. Hierdie eenhede kan volledig vir die groter gesin gehuur word of slegs enkel vir die reisende sakepersoon wat die lugreëling, volle DStv, internetverbinding, telefoondienste ensovoorts gerieflik sal vind.

Bykomend is tien luukse enkel chalets beskikbaar, elk met sy eie balkon en toegerus met dieselfde lugreëling, waaiers, DStv en elke denkbare kommunikasiegerief. Die amptelike opening van Kupferquelle-oord sal op 13 Maart plaasvind.