22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.02.2010

Kunsmisaanleg op Otavi

© Francoise Steynberg
Van links is Gerjo en Anna van der Merwe, direkteure van Sapling Carbon Fertilizer, saam met Tommy en Karen West wat aan stuur van sake staan by die nuwe koolstof-kunsmisaanleg op Otavi.
MET die opening van ’n koolstof-kunsmisaanleg op Otavi sal bemestingsprodukte nou meer geredelik beskikbaar en bekostigbaar vir Namibiërs wees. Sapling Carbon Fertilizer het pas sy eerste aanleg vir koolstof-kunsmis in Namibië op Otavi geopen. Die ontwikkeling van die aanleg word in drie fases beplan waarvan die eerste fase vloeibare kunsmis behels en reeds voltooi is. Die ander twee fases sluit kunsmis in ’n korrel- en poeiervorm in.

Dit word beoog om die fases oor ’n tydperk van ses maande te voltooi. Sowat 70 000 liter vloeibare kunsmis kan per maand by die aanleg hanteer word. “Dit sal beslis die enigste aanleg van sy soort in Namibië wees,” sê mnr. Gerjo van der Merwe, Sapling Carbon Fertilizer se direkteur van Benede Oranjerivier en Namibië.

Wat die aanleg so uniek maak, is dat alle elemente by die registrateur van bemestingstowwe geregistreer is om die presiese mengsel kunsmis te maak soos wat iemand dit nodig het. “Dit is nooit ’n voorskrifmengsel nie,” het mnr. Van der Merwe gesê. Die basiese beginsel van koolstof-kunsmis is om plantvoedingstowwe in hoë gehalte koolstof te plaas en dit dan as bemesting toe te dien, hetsy in vloeistof- of korrelvorm.

Dit is hoogs opneembaar, dadelik vir plante beskikbaar, loog nie maklik uit nie, dien as voeding vir lewendige mikrobes in die grond en verbeter daardeur ook grondstruktuur. Die belegging op Otavi sal tydens die uitbreiding van die fases werkgeleenthede skep en dit stel ook ’n internasionale produk aan Namibië beskikbaar.

Mnr. Van der Merwe sê die besluit is geneem om die aanleg op Otavi op te rig omdat die volumes vloeibare sowel as korrelkunsmis in die noorde van die land hoog genoeg is om die aanleg te regverdig. “Om die klaar vervaardigde produk vanaf Suid-Afrika te vervoer, regverdig nie die koste nie en dan word die produk se prys te duur aangesien vervoer ’n te groot deel van die totale koste behels.”

Met al die faktore in ag geneem was dit die beste opsie om ’n aanleg op Otavi te open, sê hy. Alhoewel die eerste keuse vir ’n aanleg op Tsumeb geval het, was anders besluit aangesien ’n perseel wat aan alle vereistes voldoen, nie beskikbaar was nie.

Sapling Carbon Fertilizer bedryf reeds etlike vervaardigingsaanlegte wêreldwyd en in Suid-Afrika waar tans 500 ton per maand vervaardig word. Mnr. Van der Merwe sê dat die Otavi-aanleg die produk landwyd en nie net aan die Noorde nie, sal versprei.

“Daar is om die waarheid te sê baie goeie ondersteuning tussen die twee aanlegte op alle gebiede, met die voordeel dat Kakamas die ondersteuning van 120 000 liter vloeibare kunsmis kan bied sonder om produksie in die suide van Namibië en benede die Oranjerivier te benadeel.”

Die aanleg op Otavi word so beplan dat dit vinnig saam met die aanvraag na die produk kan groei. Selfs soos die aanleg nou daar staan, sal die huidige fase (vloeibare kunsmis) reeds vergroot word.

Intussen sal die werk wat geskep word op die aanvraag na die produk bepaal word. Die skofte wat gewerk word, sal ook bepaal hoeveel mense die aanleg sal benodig. Opleiding vir werkers op voetsoolvlak sal op die perseel plaasvind, wat beteken dat dit ’n deurlopende proses sal wees.