DIE Tsumeb Koperfees gaan nou na ses jaar ‘n nuwe baadjie aantrek om beleggers na die dorp te lok. “Die gesig en die naam van die Koperfees, wat vanaf 29 Oktober tot 1 November hierdie jaar gaan plaasvind, gaan vanaf volgende jaar verander,” het mnr. Lemmy Geingob (foto), voorsitter van die Koperfeeskomitee, gesê. Hy het gesê dat die Koperfeeskomitee besluit het om aanstaande jaar ‘n Koperhandelskou te begin om buitelandse uitstallers te betrek.
“Mense van Suid-Afrika, Zimbabwe, Angola, Zambië en Botswana het verlede jaar reeds belangstelling getoon om by die Koperfees uit te stal,” sê mnr. Geingob. ’n Nuwe komitee is aan die begin van Junie gekies met mnre. Lemmy Geingob as voorsitter, Julius Gaeseb as adjunkvoorsitter, Sacky Shangula as tesourier, me. Jogbed Kaita as sekretaris, mnr. Alfeus Ndjenge, verantwoordelik vir sportaktiwiteite, me. Maria Ochurus, verantwoordelik vir die skoonheidskompetisie, me. Hilija Shatiwa, verantwoordelik vir die stalletjies en adjudantoffisier Arachub, verantwoordelik vir veiligheid.
Na verlede jaar se swak opkoms na die Koperfees het die komitee hierdie jaar Februarie met die beplanning begin en in Maart borge begin soek. Van die borge wat genader is, is Nedbank, Old Mu¬tual, Metropolitan, Cell One en Namibië Brouerye. “Hierdie jaar gaan daar klaar ’n paar veranderinge aan die Koper¬fees aangebring word,” het mnr. Geingob gesê. “Daar sal minder musiek¬kuns¬tenaars wees wat gaan optree, en nie soos verlede jaar wat daar te veel van hulle was en die publiek net so vier liedjies geniet het nie,” sê mnr. Geingob.
Hy het ook gesê op advies van die Skouvereniging in Windhoek is besluit dat die fees na ’n ander plek op die dorp gaan verskuif. “Daar moet streng beheer by die fees wees om die misbruik van drank onder die jeug en misdaad te stuit,” het mnr. Geingob gesê. Hy het ook gesê daar sal ’n heining rondom die feesterrein wees met inganghekke en fees¬gangers sal toegangsgeld betaal.
Die geld sal die volgende jaar gebruik word om die fees te verbeter. “Hierdie jaar kan die jeug net bedags by die fees besoek en net volwassenes sal in die aande toege¬laat sal word. Dit is waar die hekke gebruik sal word om kontrole te hou van wie inkom en wie nie mag inkom nie,” het mnr. Geingob gesê.
Die komitee gaan ook kyk om die stalle¬tjies teen 23:00 te sluit. “Die skoonheidskompetisie was nog elke jaar deur die dag in die ope lug gehou, maar vanjaar sal dit die aand in ’n saal gehou word. Daar sal ook sportaktiwiteite soos sokker, netbal, basketbal en boks wees wat twee weke voor die tyd begin om die mense van die Koperfees bewus te maak,” het mnr. Geingob gesê.
Volgens hom sal die Koperfees die ekonomiese arm van die mu¬nisipa¬liteit wees en sal dit die belange van die dorp op die hart dra. “Die mu¬nisipale raad gaan met die Koperfees die moontlikhede van gesamentlike ondernemings onder¬soek om geld vir die verdere ont¬wik-keling van die dorp te ge¬nereer,” het mnr. Geingob gesê.