24.06.2008
Kommandowurms teister oeste

Só lyk ‘n landery in die Omusati-streek wat ‘n swak oes opgelewer het.
‘n REËNSEISOEN wat laat begin het, die uiteindelike impak van die vloed en kommandowurms gee voedselsekuriteit in die sentrale noordelike streke ‘n erge knou. ‘n Tekort aan trekdiere om landerye te ploeg (baie diere is in die vloed vrek) het verder bygedra dat aansienlik minder grond vanjaar beplant is. Huishoudings wat wel daarin kon slaag om ‘n oes van die land te haal, reken die opbrengs sal net tot in Augustus hou voordat hul kosvoorraad uitgeput is.
Dié realiteite is vervat in die jongste verslag van die Namibiese Vroeë Waarskuwing- en Voedselinligtingseenheid in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en ‘n ernstige aanbeveling is dat die Regering moet ingryp en óf finansiële steun óf kos aan die gemeenskappe moet voorsien.
“Tydens die ondersoek was geen verligtingsaksies bekend nie en het ons ondersoekers agtergekom dat die pensioengeld huishoudings met bejaardes baie goed help om kos by winkels te koop. Huishoudings met geen inkomste nie, is baie meer kwesbaar vir voedselsekuriteit omdat hul lewendehawe direk of indirek staatmaak op landbou wat deur reën gevoed word,” lui die verslag. Die verslag sê dat weidingsgrond in die sentrale noordelike streke in ‘n redelike goeie toestand is, maar dit word verwag dat dit baie vinniger as ander jare sal versleg.
“Die weidingsgebiede het nie goed herstel ná verlede jaar se droogte nie en die herstel is verder deur die vloede versleg. Boonop het boere ‘n groot probleem met kommandowurms gehad.” Hoewel die lewendehawe in ‘n goeie toestand is, het sommige boere parasiete by hul bokke aangemeld.
Bokke wat met die parasiet besmet is, het gevrek. Verder sê die verslag is genoeg water beskikbaar regoor die streek. Baie gronddamme het wel al opgedroog, maar daar is van die damme wat water tot in die volgende seisoen sal hou.

Só lyk ‘n landery in die Omusati-streek wat ‘n swak oes opgelewer het.
Omusati-streek
Laat reëns, vloede en kommandowurms veroorsaak dat huishoudings groot voedseltekorte in die gesig staar. Die geografiese aard van die streek word gekenmerk deur oshonas, wat water vanaf die Cuvelai-kom in Angola tot by die Etosha-pan dra.
Die meeste landerye is verspoel en het boere verhoed om dit te bewerk. Terselfdertyd het bykans al die kiesafdelings in die streek plae van kommandowurms beveg. Asof dit nie genoeg is nie, het dié gewasse wat laat geplant is, nie ‘n volwasse stadium bereik nie en groei is dus gestrem. Dít is hoofsaaklik die gevolg van die reën wat skielik in Maart opgeklaar het. Al die faktore dra by tot ‘n negatiewe oes vanjaar.
Die totale gebied wat in die Omusati-streek beplant is, is 50 030 hektaar, sowat 18 persent minder as verlede jaar. Op 47 960 hektaar is giersgars geplant en op 2 070 hektaar sorghum. Die oesskatting word op sowat 8 986 ton gereken, met 8 570 ton hiervan giersgars en die res sorghum. Die produksie verteenwoordig ‘n afname van sowat 35 persent teenoor dié van verlede jaar en is 54 persent onder die sesjaar-gemiddeld.
Oshana-streek
Ten spyte van die pogings deur boere om minstens 80 persent van hul grond te bewerk, het die vloede, kommandowurms en die reënseisoen wat vroeg opgehou het, ‘n reuse-impak op die oesskatting. Die wurms het beide gewasse en weiding tot op die grond afgevreet.
Hoewel verskeie pogings deur die Ministerie se voorligtingskantoor aangewend was om ‘n ramp vanweë die kommandowurms af te weer, is geen sukses behaal nie. ‘n Totaal van 33 891 hektaar is vanjaar in die streek beplant. Dit is 43 persent meer as verlede jaar.
Ook in dié streek is meer giersgars as sorghum gesaai. Die algehele oesskatting word op 5 457 ton gereken, wat sowat 4 persent minder is as verlede jaar. Die sorghum-oes sal net sowat 641 ton wees omdat dit baie beïnvloed is deur die reën wat skielik opgehou het en rooibekvinke wat oeste in die Ondangwa- en Uuvudhiya- kiesafdelings verwoes het.
Ohangwena-streek
Soos met die ander streke, het ondergemiddelde reën in die eerste helfte van die seisoen, asook vloede en kommandowurms ook hul tol in die streek geëis. Baie boere kon net 50 persent van hul landerye bewerk omdat dit deurdrenk was. Die grootste deel van die streek is deur kommandowurms verwoes – weiding en gewasse.
Die kiesafdelings wat die ergste geraak is, is Ohangwena, Endola, Omulonga, Engela en Omundaungilo. Die meeste boere in die kiesafdelings kan nie ‘n behoorlike oes verwag nie. Altesame 49 920 hektaar is beplant en dit is 16 persent minder as verlede jaar.
Weer eens is die grootste oppervlak (47 628 hektaar) met giersgars beplant. Die algehele oesskatting word op 10 387 ton gereken, sowat 24 persent minder as verlede jaar en 48 persent minder as die sesjaargemiddeld. Die oesskatting bestaan uit 9 355 ton giersgars en 1 032 ton sorghum.
Oshikoto-streek
Kommandowurms het ook in dié streek hoofbrekens veroorsaak. Twee uitbrekings van kommandowurms is aangemeld. Die eerste het Onayena, Onyaanya, Olukonda, Oniipa en Omuntele geraak en die tweede het verder gestrek tot by Okankolo en Omuthiya.
Die totale gebied wat vanjaar beplant is, is sowat 45 045 hektaar, sowat 6 persent minder as verlede jaar. Altesame 43 890 hektaar is met gars beplant en 1 155 hektaar met sorghum. Die algehele produksie van growwe graan word op 8 861 ton geskat – 8 281 ton giersgars en 580 ton sorghum.
Die opbrengs van sorghum is erg geraak by Onayena, Okankolo, Olukonda en Oshigambo. Boere in die oostelike dele van Onyaanya, Okankolo en Omuthiya en die Eengodi-kiesafdeling kan vanjaar ‘n gemiddelde oes verwag.