
Mnr. Rod Webster
DIE voorgenome verkooptransaksie van die Kombat-myn aan die Suid-Afrikaanse maatskappy Cubenco is van die baan.
Dit volg nadat die Kanadese mynmaatskappy Dundee Precious Metals vir Namibia Custom Smelters (NCS) op Tsumeb oorgeneem het, lui ’n verklaring van Weatherly Mining International.
Cubenco het sedert 2 November 2009 die opsie gehad om die Kombatmyn van Weatherly Mining International se filiaalmaatskappy, Ongopolo Mining, teen US$3 miljoen (sowat N$23 miljoen) te koop.
Volgens die voorwaardes moes Cubenco ’n nie-terugbetaalbare deposito van US$160 000 (sowat N$1,2 miljoen) betaal, waarna twee verdere paaiemente van US$600 000 (sowat N$4,6 miljoen) en US$2 240 000 (sowat N$17,1 miljoen) betaalbaar was op onderskeidelik 8 Desember 2009 en einde Maart vanjaar.
Cubenco het nie sy tweede deposito van US$600 000 in die bepaalde tydskedule volgens kontrakvoorwaardes betaal nie, waarna Weatherly die ooreenkoms opgeskort en die nieterugbetaalde deposito van US$160 000 teruggehou het, luidens die verklaring. Na bewering is daar nog ’n belangstellende koper vir Kombatmyn.
Volgens die hoof uitvoerende beampte van Weatherly Mining International, mnr. Rod Webster, sal die maatskappy ná die finalisering van die Dundee-NCStransaksie US$13 miljoen (sowat N$99,7 miljoen) kontant in die hand hê nadat alle skulde gedelg is.
“Die prioriteit bly egter die heropening van die Matchlessen Otjihase-myne, asook die ontwikkeling van die Tschudioopgroefmyn.”
Weatherly het op 14 Januarie ’n voorgenome bindende ooreenkoms met Dundee gesluit vir die verkoop van NCS vir US$33 miljoen (sowat N$253 miljoen). Die Kanadese maatskappy sal ook bedryfskapitale leningsgeriewe van US$6 miljoen (sowat N$46 miljoen) aan Weatherly Mining International voorsien.
US$2 miljoen (sowat N$15,3 miljoen) sal aan Weatherly gaan om krediteure te betaal, asook uitstaande mynregte ten bedrae van US$1,3 miljoen (sowat N$9,9 miljoen) aan die Regering van Namibië. US$2 miljoen sal vir die smelter se nuwe suurstofaanleg aangewend word.