
Letitia Brink het die vroue-afdeling van die Bank Windhoek Noorde Ope gholftoernooi op Tsumeb gewen. ‘n Totaal van 73 spelers van wie ses vroue was, het vir die toernooi ingeskryf. Soos in die verlede het die toernooi opwindende gholf opgelewer in die mans-, vroue- en juniorafdelings.
DIE Tsumeb gholfklub het ongeveer 50 lede wat ook spelers van Grootfontein, Otavi, en Oshakati insluit en is aktief met ongeveer 22 kompetisies wat jaarliks daar aangebied word. Die Bank Windhoek Noordelike Ope het op 7 en 8 Junie plaasgevind en 73 spelers landwyd het vir die kompetisie na Tsumeb gereis.
Tydens hierdie kompetisie moes die spelers probeer om hul punte op die nasionale punteleer te verbeter om vir die nasionale span te kan kwalifiseer. Die 73 spelers was van Windhoek, Swakopmund, Walvisbaai, Otjiwarongo en Tsumeb van wie ses spelers dames was wat deelgeneem het.
Dit was die eerste keer wat ’n junior vrouegholfspeler, Letitia Brink van Windhoek, die Noordelike Ope gewen het. Letitia het vir Margaret Voigts van Tsumeb, die verdedigende kampioen, met vier houe gewen. “Vrouegholf word al hoe meer deur juniors oorheers wat besig is om beter gholf te speel,” sê mnr. Toeloes Voigts, tesourier van die gholfklub.
Die ope is gewen deur Willie Grobler van Tsumeb. Sedert die ope se bestaan is hy die oudste wenner nog. Die volgende kompetisies is die Sanlam-gholfdag op 5 Julie, die Jowells Transport- en Fourways-gholfdag op 11 Julie en die Namibiese Brouerye- en Stephans Photo Lab- gholfdag op 26 Julie. Die Distell Tsumeb Ope is ’n landwye kompetisie met ongeveer 70 spelers wat gaan deelneem en wat op 16 en 17 Augustus gaan plaasvind.
Die uitslae van die Bank Windhoek Noordelike Ope is die volgende:
Algeheel Bruto: 1. W Grobler – 150. 2. H Nghinamwaami – 151. Netto: 1. S Tjizao – 138. 2. D Horaseb – 141.
A-afdeling Bruto: 1. C du Preez – 152. 2. G de Waal – 153. Netto: 1. J Nugurib – 146. 2. E Geinub – 148.
B-afdeling Bruto: 1. S Djuella – 159. 2. I Shifula - 160 Netto: 1. F Hamunyela – 142. 2. J Goagoseb – 144.
C-afdeling Bruto: 1. F Joubert – 171. 2. J le Riche – 176. Netto: 1. D Kotze – 141. 2. G Gariseb – 146.
Vroue Bruto: 1. L Brink – 178. Netto: 1. M Voigts – 144.
Juniors Bruto: 1. C du Preez – 152.