
‘n Dansgroep van Okakarara se jongmense vermaak die gaste tydens die amptelike inwyding van die OCCTC.
DAAR bestaan ‘n toenemende politieke belangstelling vanuit Duitsland rakende die toekoms van die Okakarara-gemeenskap se Toeristesentrum (OCCTC) wat op 9 Julie ingewy is – asook oor die toekomstige rol wat hierdie sentrum in die Duits-Namibiese verhouding kan speel. Dit is die mening van Duitsland se ambassadeur in Namibië, me. Ute König.
“Om die sentrum in staat te stel om ‘n gereelde kulturele program aan te bied, gaan twee jong Duitse vrywilligers hier gesetel word. Dit sal geskied volgens die nuwe Duitse program bekend as “Weltwärts” wat vrywilligers oorsee stuur om met Duitse Ontwikkelingsamewerking (DED) te help.
“Hierdie jong mense gaan bydra tot die positiewe rol wat hierdie sentrum sal speel – en ek hoop dat die plaaslike gemeenskap ‘n warm ontvangs vir hierdie geesdriftige jong mense gaan bied en hulle ook ondersteun. “Hulle is jong mense wat soos ek gesê het, blote idealiste is wat nie hierheen kom om geld te verdien nie. Hulle is bloot hier om by te dra, oor jul kultuur te leer en om julle te leer ken,” het die ambassadeur gesê.