24.06.2008

Hoërskool Otjiwarongo kry nuwe rekenaars

© Jan Poolman
Die burgemeester van Otjiwarongo, mnr. Otto Ipinge, oorhandig namens NamPower een van talle rekenaars aan me. Rina Goldbeck van die Hoërskool Otjiwarongo.
NAMPOWER het sowat N$40 000 se rekenaartoerusting aan die Hoërskool Otjiwarongo geskenk as deel van die maatskappy se maatskaplike verantwoordelikheidsprogram. Tydens die oorhandiging het die bestuurder van bemarking en korporatiewe kommunikasie van NamPower, mnr. John Kaimu, gesê die maatskappy ag dit sy plig om by te drae tot die welstand van die land se onderwysstelsel.

“Hierdie sektor speel die belangrikste rol in die opvoeding van ons kinders. Hulle moet immers in die toekoms die sakesektor en die land bedryf. Dit is dus belangrik dat skole soveel hulp as moontlik kry om ons kinders daarop voor te berei.” Toe hy die rekenaars namens NamPower aan die skool oorhandig, het die burgemeester van Otjiwarongo, mnr. Otto Ipinge, gesê inligtingstegnologie is ‘n integrale deel van doeltreffende dienslewering.

“As ‘n nasie kan ons nie bekostig om agter te raak met die 21ste eeu se vereistes nie, waar alles al hoe meer gerekenariseer word.” Hy het voorts gesê hy twyfel geensins dat die skenking momentum sal gee aan die uitstaande uitslae wat die skool elke jaar lewer nie.

“Die dorpsraad is baie trots op die skool, aangesien daar nie net jaar na jaar uitstaande akademiese uitslae gelewer word nie, maar ook uitstekende sportmanne en- vroue.” NamPower het in die laaste jaar beurse aan 16 studente toegeken om by tersiêre instellings in ‘n verskeidenheid vakrigtings te studeer. Boonop bied NamPower finansiering aan 60 leerlinge wat sowat N$3 miljoen per jaar kos.