22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.08.2010

Hofbode in sop oor erweskandaal


Me. Magritta Visser
VERMEENDE bedrog met die verhandeling van erwe op Otavi het me. Magritta Visser, die bode van die hof, en haar vriend en vennoot mnr. Chris de Jager oor korrupsie in die hof laat beland. Die beskuldigdes het onlangs weer in die hof op die noordedorp verskyn op klagte wat met die korrupte koop en verkoop van munisipale erwe verband hou.

Hierbenewens het die beskuldigdes nie geld wat op die wyse bekom is, aan die regmatige persone oorbetaal nie. Me. Visser en mnr. De Jager het op 31 Mei vir die eerste keer in die hof verskyn op klagte van diefstal en bedrog en is gelas om hul paspoorte in te handig en N$20 000 borg te betaal op klagte rakende die verkoop van erwe wat deur Otavi se munisipaliteit op ’n veiling geplaas sou word.

Me. Visser is aangekla op klag van oortreding van die Teenkorrupsiewet, artikel 43, deurdat sy haar posisie misbruik en van die erwe voortydig en vir pryse laer as die bepaalde bedrag verkoop en na bewering ook van die erwe aan meer as een persoon gelyk verkoop het.

Mnr. Chris de Jager
Sy word ook daarvan beskuldig dat sy van die geld vir haarself gehou het en nie die volle bedrae aan die munisipaliteit se regsverteenwoordigers Conradie & Damaseb Prokureurs oorbetaal het nie. Meer as 150 erwe wat aan die munisipaliteit behoort, is betrokke.

Die totale bedrag waarvoor die 150 erwe van die hand gesit is, was N$760 765 waarvan me. Visser slegs N$382 150 oorbetaal het. Hiervan is N$175 000 glo uit haar eie rekening oorgeplaas. Verder het sy glo 18 erwe aan mnr. Chris de Jager, haar vriend en die pa van een van haar kinders, verkoop vir ’n bedrag ver onder die vasgestelde prys en werklike waarde.

Een gesin van Swakopmund beweer dat hulle erwe ter waarde van N$300 000 van me. Visser gekoop het, terwyl slegs N$34 000 aan die prokureurs oorbetaal is. Na bewering het sy ook erwe verkoop wat reeds aan ander eienaars behoort, sonder die wedewete van die ontstoke eienaars.

Ook nywerheids erwe is glo op dié wyse verkoop. Volgens lede van die gemeenskap het me. Visser as ’n eerlike, goed opgevoede en betroubare persoon voorgekom. Sy is intussen uit haar pos as hofbode geskors.