22.5.2012
 Argiewe:

Noorderlig


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.02.2010

Hof beveel herwaardasie van Tsumeb-eiendomme

DIE waardasiehof op Tsumeb het op 29 Januarie beslis dat alle belasbare eiendomme op die dorp herwaardeer moet word nadat die waardeerder nie sy kontraktuele verpligtinge ten volle uitgevoer het nie. Tsumeb se inwoners het met die uitspraak ’n uitklophou geplant op die omstrede waardeerder, mnr. Chat van Wyk van Nasikama Property Valuation & Consulting.

Hy was voorheen in omstredenheid gedompel met sy waardasie van eiendomme op Hentiesbaai, wat ’n golf van protes onder die kusdorp se inwoners veroorsaak het. Altesaam 238 inwoners van Tsumeb het beswaar aangeteken teen die voorlopige waardasierol van eiendomme wat erfbelasting met sowat 200% die hoogte sou laat inskiet indien dit goedgekeur en in Maart geďmplementeer sou word.

Die hofbeslissing het egter die voorgenome verhoogde erfbelasting in die kiem gesmoor. Mnr. Danie Kotzé van Danie Kotzé en Vennote het 126 van die 238 beswaarmakende grondeienaars tydens die verrigtinge verteenwoordig.

Die voorlopige waardasierol was nie op meriete beoordeel nie, aangesien mnr. Kotzé etlike tegniese besware teen die samestelling van die voorlopige waardasierol as punte aan die begin van die saak geopper het. Die waardasiehof onder voorsitterskap van landdros Peter Nangula het die beswaarmakers gelyk gegee en bevind dat die voorlopige waardasierol nie behoorlik geformuleer was nie.

Gevolglik kon die hof nie die waardasies daarin vervat vir goedkeuring beoordeel of oorweeg nie. Die waardasiehof het verder gelas dat die waardeerder alle belasbare eiendomme moet herwaardeer, ongeag of enige van die eiendomme tydens sy eerste poging wel gewaardeer was. Mnr. Van Wyk behoort gevolglik nie aanspraak te kan maak op enige bykomende betaling tydens die herwaardasieproses nie, aangesien die herwaardasie genoodsaak is deur die feit dat hy nie sy kontraktuele verpligtinge behoorlik nagekom het nie.

Die uitspraak spruit uit die feit dat mnr. Van Wyk nie alle belasbare eiendomme, wat deel vorm van die voorlopige waardasierol, vir waardasiedoeleindes besoek het nie. Tydens die hofverrigtinge het hy ruiterlik erken dat hy persoonlik net sowat 500 van Tsumeb se sowat 4 500 belasbare eiendomme besoek het.

’n Verdere 36 van die belasbare erfeienaars wat deur mnr. Kotzé verteenwoordig was, beweer dat geen vorm van waardasie hoegenaamd ten opsigte van hul eiendomme tydens die waardasieproses uitgevoer was nie. Dit is ook beweer dat ’n menigte ander belasbare eindomme deur kinders vir waardasiedoeleindes besoek is.

Hierdie besware was vir die hof voldoende en die herwaardasie is gelas. Volgens die uitspraak sal ’n advertensie weer in die media verskyn wat inwoners 21 dae sal gee om hul besware aan te teken.

Die uiters ervare hofpaneel het bestaan uit landdros Nangula van Tsumeb, mnr. Francois Pretorius van die Tsumebse regspraktyk F.A. Pretorius & Kie., benoem as verteenwoordiger van die munisipaliteit van Tsumeb en me. Maria Iyambo, benoem as verteenwoordiger van die Minister van Streek- en Plaaslike Owerhede, Behuising en Landelike Ontwikkeling.

Daar is sprake dat die gemeenskap van Tsumeb beplan om ’n inwoners-organisasie te stig om samewerking tussen die publiek en die munisipaliteit te bevorder.