24.06.2008

Grootfontein se Ossewatoer


Ds. Hans Steyn (links) en mnr. Giel Boshoff besig om die roete met een van die ossewaens te ry.
“DIE osse stap aan deur die stowwe, geduldig, gedienstig, gedwee; die jukke, al drukkend hul skowwe – hul dra dit getroos en tevree. En stille, al stuiwend en stampend, kom stadig die wa agterna.” So het Jan F.E. Celliers die Groot Trek in sy gedig “Die Ossewa” beskryf, ‘n trek wat hom in die kleine in die Grootfontein- Otavi omgewing herhaal.

Die keer is dit egter nie die boere wat trek nie, maar toeriste wat saam met ossewaens ‘n tydjie in die veld kan deurbring. ’n Paar vriende in die Grootfontein- omgewing behoort aan ’n koffieklub en het besluit om so nou en dan met hul vyf ossewaens bietjie rond te reis. Mnr. Giel Boshoff en ds. Hans Steyn het einde verlede jaar hul eerste toergroep, verslaggewers van België, op ’n vier dae en vyf nagte toer deur Berg Aukas en Tierkloof geneem.

Met die ossewatoer wil mnr. Boshoff en ds. Steyn die toeriste meer betrokke kry. As die mense wil, kan hulle onder die sterre by die ossewa slaap of ’n tent opslaan. Met die rit self word die toeriste betrek om te help met die ossewa soos in die verlede met die Groot Trek om ’n bietjie geskiedenis weer terug te bring. Om die osse se kragte te spaar, word slegs vanaf 03:00 tot 11:00 en vanaf 15:00 tot 23:00 getrek.

Van die verslaggewers van België sit om ’n kampvuur.
Die gaste sit in die aande om ’n kampvuur en maak kos en vertel stories. Mnr. Boshoff het al dertien jaar sy osse en het in 1995 sy osse geleer om ’n ossewa te trek. Hy het gesê dat dit hom drie dae geneem het om hulle in te breek en nog ‘n tydjie om die osse te leer om die wa te trek. Ds. Steyn het ook sy eie ossewa en saam met mnr. Boshoff is hulle elke jaar by die skou op Grootfontein in die optog om mense te laat onthou van die Groot Trek.

“Ek is besig om ’n vyf ton ossewa uit die Dorslandtrek se tyd by mnr. Gustav Schultz te kry wat ons ook hierdie jaar by die optog sal gebruik,” het mnr. Boshoff gesê. “Ons het sover net een roete wat ons met toeriste ry, maar ons beoog om ’n tweede roete by te voeg. Ons is besig om’n borg te kry en die borg wil hê dat ons ’n roete vanaf Usakos tot op Swakopmund en terug moet volg,” het mnr. Boshoff gesê.

Hy het ook gesê dat hy daaraan dink om perde in te sluit vir mense wat wil perdry. Vir meer inligting en besprekings kan ds. Hans Steyn by 081 279 1599 geskakel word of ’n e-pos kan na wildevy@iway.na gestuur word. Foto’s verkry van www.gold chstein.com/assignments/web site_namibia/index.