
Mev. Barbara Wessels
TOERISME op Grootfontein is ernstig onder die loep geneem tydens ’n vergadering wat vroeër vanjaar by Das Alte Fort Museum gehou is. Verteenwoordigers uit alle sektore van die toerismebedryf het aan die dinkskrum deelgeneem.
Mev. Barbara Wessels, voorsitter van die Museumkomitee, het gesê dit is die verantwoordelikheid van die gemeenskap om te keer dat Grootfontein ’n stadige dood sterf. Die feit dat groot getalle toeriste Grootfontein misry tydens hul besoek aan die Noorde, moet reggestel word.
Sy het haar kommer uitgespreek oor die gebrek aan samewerking tussen verskillende instansies. Haar grootste kommer is dat ’n bekende toeristewebwerf toeriste aanbeveel om nie die risiko te loop om op Grootfontein te stop nie, kamtig omdat dit onveilig is. Die vergadering was dit eens dat dit geen getroue beeld van die dorp is nie.
Bedelaartjies is wel ’n probleem. ’n Algemene gevoel was dat spanwerk in die toekoms die strategie sal wees. ’n Toerismeforum is in die lewe geroep met mnr. Chris Smit as die sameroeper, maar verteenwoordigers van elke sektor van toerisme sal op die forum dien.
Mense wat wil saamwerk en met hom wil skakel, kan hom by 081 317 7386 of 067 240 384 bereik. Die dinkskrum het heelwat idees vir die bevordering van toerisme in die Grootfontein-distrik opgelewer. ’n Toerismeroete en dagtoere, ’n koffiewinkel, internetkafee en inligtingsentrum by die museum, behoorlike verwysings na besienswaardighede op die webwerf asook skakeling en bemarking tussen verskillende lodges, besighede wat op toerisme ingestel is en die museum, is alles moontlikhede wat onder die soeklig sal kom.
Die ganse gemeenskap word genooi om aan hierdie inisiatief deel te neem en voordeel daaruit te trek. Toerisme raak die hele gemeenskap en is tot elkeen se ekonomiese voordeel.
Dit bring meer geld, sakegeleenthede, werkgeleenthede en meer mense na Grootfontein, alles elemente wat kan bydra tot die uitbreiding en welvaart van die dorp.