29.11.2011 Grootfontein hou reünie
 Presies 35 jaar later het die 1976 matriekgroep van die Sekondêre Skool Grootfontein hul reünie gehou.
PRESIES 35 jaar ná hul matriekafskeid het die Sekondêre Skool Grootfontein se matriekgroep van 1976 ’n reünie gehou.
Oudskoliere het van so ver as Suid-Afrika en Londen gekom om die spesiale naweek by te woon.
“Binne weke is byna almal opgespoor deur middel van eposse, fakse, telefoonoproepe en Facebook,” het ’n oudskolier, me. Amanda Stegemann, gesê.
Die groep wou nie net vir een aand aan die goeie ou dae terugdink nie en ’n hele naweek is opsy gesit vir die joligheid. Die meeste het hul wederhelftes saamgebring vir die makietie.
Tydens ’n informele braai is ou vriendskapsbande weer vernuwe en staaltjies is met mekaar gedeel. “Baie van die staaltjies was ten koste van Oom Fred Oosthuizen, die enigste onderwyser wat die naweek meegemaak het.”
Die volgende dag is afgestaan om die hoër- en laerskole te besoek. Namate herinneringe teruggekom het, is sekere hoekies en trappies uitgewys waar skelm gerook of gevry is, of waar pouses in groepies gesit is.
’n Groepfoto is op dieselfde plek geneem waar ’n handvol matrieks 35 jaar tevore hul lewe voor hulle gehad het. “Al daai foto’s het al vergeel,” het Stegemann gesê.
“Daarna is die dorp verken en die gades moes maar luister na al die vertellinge, hoewel hulle nie omgee nie.”
Ná ’n spogdinee die Saterdagaand, is op die Sondag met heimwee in die hart gegroet. Die laaste mense het nog adresse uitgeruil en foto’s geneem.
|